Gedenkdiens vir oud-Gimmie
2008-06-12
OP wat haar 26ste verjaardag sou gewees het môre, sal familie en vriende van Idelette Ferreira vir ’n herdenkingsdiens in die Paarl bymekaarkom, ter ere van dié oud-Gimmie wat verlede week verongeluk het. Idelette, dogter van ’n voormalige pastoriepaar van Drakenstein NG gemeente, het Donderdagaand buite Somerset-Wes beheer oor haar motor verloor aan die voet van Sir Lowrys pas teen ’n boom gebots. Idelette was hoofmeisie van Laerskool La Rochelle voordat sy by Gimnasium Hoërskool gematrikuleer het. Ná ’n jaar in Londen waar sy in ’n hotel gewerk het, het sy in Kaapstad ’n diploma in binnenshuise argitektuur verwerf en nou in Somerset-Wes gewerk. “Idelette was ’n kreatiewe gees en ’n liefdevolle mens,” het haar pa, dr Jannie Ferreira, hierdie week onthou. “Sy het graag mense onthaal en was lief vir die fyner dinge van die lewe.” Dr Ferreira, nou van die Strand, sal self die gedenkdiens lei, môre om 15:00 by die NGK Suider-Paarl. Idelette word ook oorleef deur haar moeder, Hantie, van Somerset-Wes, en ’n broer, Marinus (28).
More
News
|