Woesteny word gesonde lushof
2008-06-12
Sonja Burger
IN November 2007 het die 76-jarige oom Gawie April vir die eerste keer sy sterk, seningrige tuiniershande in die grond van ’n verwaarloosde gemeenskapstuin aangrensend aan sy sinkhuis in die Amstelhof plakkerskamp in Paarl-Oos gesteek. Nou, ses maande later, lê die netjiese akkertjies bone, beet, aart- appels, wortels, uie, kool, kropslaai en kruie welig en groen in die Paarlse herfssonnetjie. Oom Gawie en sy twee vennote, die 68-jarige Frederick Julies en die 55-jarige Richard Joostenberg, het stelselmatig die woesteny op hulle voorstoep omskep in ’n lushof wat vars groente en kruie in seisoen aan die gemeenskap verskaf. Met die eerste winterreëns het die huisvrouens tougestaan om te hoor watter kruie hulle in hul sop kan gooi. Vir maande lank het oom Gawie gekyk hoe die tuin, ’n gemeenskapsprojek van die Munisipaliteit, agteruitgaan omdat die gemeenskaplede wat aangestel is om na die tuin te kyk, belangstelling verloor het. Oom Gawie, wat tot na sy aftrede op Parysplaas gewoon het en dekades lank in tuine en wingerde gewoel het, het telkens buite die draad gevra of hy nie kan hand bysit nie. Christopher Samuels van Drakenstein Munisipaliteit, dryfveer agter die gemeenskapstuine, het sy entoesiasme raakgesien. Samuels, ook ’n Amstelhof-inwoner, het ook gesien dat Richard Joostenberg elke jaar reuse somerpampoene kweek en het gereeld gesels met Frederick Julies, wat besorg was oor die verwaarlosing van die tuin en die negatiewe effek op die omgewing. So het die driemanskap, die Amstelhoftuiniers, tot stand gekom. Die tuin is ’n munisipale armoedeverligtings- en ontwikkelingsprojek.Die Munisipaliteit verskaf die grond, bemesting en saad en die tuiniers verskaf hulle tyd en arbeid. “Dit is die visie van die Munisipaliteit dat groepe tuiniers wat in hierdie tuine ervaring opdoen met aanplanting, bemesting, verkope en bemarking, uiteindelik bemagtig sal word om uit te beweeg na groter kleinboerontwikkelingsprojekte,” sê Samuels. Kleinboere wat hulself in tuine soos dié bewys kan in aanmerking kom vir groter landbou-ontwikkelingsprojekte buite die dorp. Die tuin is egter nie sonder sy probleme nie. Die driemanskap ervaar al die groeipyne wat boere dwarsoor Suid-Afrika ervaar. Die besproeiing is basies en moet opgeknap word, diewe het al hulle tuin geplunder, skuldenaars betaal dikwels nie hulle skulde nie en die tuiniers het ’n sterk behoefte aan leiding aangaande die beste plantdatums en ander landbou-inligting. Departement Landbou se Julian Abrahams verskaf opleiding en inligting om uiteindelik die projek te registreer as ’n amptelike CASP (Comprehensive Agricultural Support Programme) voedselsekuriteitsprojek. CASP bied finansiële ondersteuning aan bestaansboerderye wat die nodige institusionele en tegniese effektiwiteitsvlakke bereik het. Die manne is dit eens dat die tuin hulle goed doen en ’n waardevolle bydrae lewer in ’n tyd wat voedselsekuriteit in kwesbare gemeenskappe ’n groot probleem is. Ligdag is hulle op die grondjie besig om te skoffel, te besproei en te oes. “Dis ’n seën om so iets te doen,” sê Frederick Julies, “Dis lekker om ’n positiewe bydrae te kan maak.”
More
News
|