Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Gawie se Water was lank voor sy tyd

Gawie se Water was lank voor sy tyd
 
2008-06-26

Marguerite Lombard

DIE boere van Wellington se Bovlei gebruik al amper 150 jaar ‘Gawie se Water’ om hulle wingerde, boorde en stokkielande te besproei. Hierdie bergwater is eintlik ‘gesteelde’ water wat vanuit die Witterivier uitgekeer is na die Kromrivier.

Waar die water oorspronklik bestem is om saam met die Breërivier in die Indiese Oseaan uit te vloei, vloei ’n gedeelte van die Witterivier se water vandag saam met die Bergrivier na die Atlantiese Oseaan.

Soos die oumense sê, wys vir my ’n boer wat nog nie water probeer steel het nie…

Die naam ‘Gawie se Water’ verwys na die man wat die watervoor in 1860 gebou het, Gawie Retief (’n neef van die Voortrekkerleier Piet Retief).

Gawie Retief het daardie jare op die plaas Kanetfontein gewoon. Vandag woon daar nog steeds Retiefs in die Bovlei.

Op die plaas Welvanpas vertel Dan Retief (snr) dat hy, sy pa en sy oupa reeds van die begin van die vorige eeu oor hierdie historiese watersloot waak.

“My oupa was daardie jare die voorsitter van die Kromrivier Waaksaamheidskomitee. Die komitee is in 1910 gestig om te kyk na die belange van die rivier. Hy was voorsitter tot sy dood in 1940. My pa was sekretaris vir ’n hele paar jaar, en toe word ek voorsitter in 1974,” vertel hy.

Ongeveer 700 hektaar landbougrond is vandag afhanklik van die water uit die voor.

Hy vertel dat in die 1800’s het die boere nie hulle wingerde soos vandag besproei nie.

“Wingerde was meestal droë land, en mense het oor die algemeen net die paar vrugtebome om die huis natgelei.”

Waarvoor die helder water uit die Witterivier eintlik gebruik was, was om brandewyn te maak in die stookketel wat elke plaas gehad het.

Die vallei se boere het reeds in 1815 begin dink om ’n voor te bou om water oor die warm somermaande te verseker, maar omdat hulle nie kon ooreenkom oor hoe om dit te finansier en hoe om die water te verdeel nie, is dit eers met die bou van die Bainskloofpas weer ernstig oorweeg.

Andrew Geddes Bain, Bainskloofpas se ingenieur, het tydens die bou van die pas van die plan te hore gekom en die Bovlei se boere gehelp om die voor af te steek.

Toe hy aanbied om dit te bou teen ’n koste van 600 pond, het hulle egter gevoel hy vra te veel.

Hulle was oortuig dat hulle dit goedkoper sou kon doen, en stel toe vir Gawie Retief aan om die voor te bou. Goedkoop was toe duurkoop, want dit kos toe vir hulle nie minder nie as 1 200 pond om te voltooi.

Vandag word die water uit Gawie se Water deur ’n besproeiingsraad beheer, en die boere moet self sorg dat die voor in stand gehou word.

Oor die jare is enkele verbeterings aangebring, soos om die sluis in die Witterivier te versterk en om ’n deel van die kanaal met sement uit te voer.

Dan Retief vertel dat in sy pa se tyd is ’n ingenieur geraadpleeg om die vloer van die kanaal, waar dit oorspronklik met buskruit deur rots geskiet is, meer gelyk te maak.

“Die val was reg, maar hulle wou die vloei van die water deur die nou ‘cutting’ verbeter. Hulle het natuurlik nie buskruit gebruik nie, maar dinamiet.

“Ons was altyd baie versigtig om nie te raak aan die hoeveelheid water wat uit die Witterivier gekeer word nie.

“Die boere van die Breërivier het ons baie fyn dopgehou. Hulle het daardie jare altyd gevoel dit is eintlik hulle water wat ons vat. Ek weet nie hoe hulle deesdae daaroor voel nie.”

Vandag kan ’n mens langs ’n bergpad stap tot by Gawie se Water. Die bergpad begin net suid van Eerste Tol. ’n Naambord dui ook aan waar dit onderdeur die Bainskloofpas vloei na die Bovlei.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za