Toe Pentzstraat nog Verlatekloof was
2008-06-26
Marguerite Lombard
ELKE nou en dan besef ’n mens weer hoeveel en hoe vinnig ’n dorp in een leeftyd kan verander. Jare gelede het laer Pentzstraat as Verlatekloof bekend gestaan. In daardie dae het baie mense nog hoenders, donkies en beeste aangehou en elke dag het ’n veldwagter die diere kom haal en in die vlei langs die rivier laat wei, vertel Charlotte Cupido (gebore Bushby). Snags het die veewagter hulle weer een vir een terugbesorg. As kind het sy met verwondering gekyk na hierdie daaglikse ritueel. Sy is in 1921 gebore en het in laer Pentz- straat grootgeword. Haar pa het by Hiscocks gewerk, en homself as ’n “polony and sausage maker” beskryf. Een van haar take as kind was om elke dag met ’n emmertjie na die Hiscocks-fa- briek te gaan waar haar pa vir die gesin ’n paar vleisbene eenkant gehou het. Dan is sy met die emmertjie sing-sing weer huis toe. “Ma kon baie lekker kos maak. Suikerboontjie-kerrie, afval en tamatie-bredie, maar nooit waterblommetjie-bredie nie. Pa het altyd gesê die mense pluk die waterblommetjies agter in die runderpesgat waar die dooie perde ingegooi is.” Die oumense het baie mooi gebruike gehad, vertel sy. “Ma het die gewoonte gehad om teen die middag ’n skoon voorskoot - spierwit so met die plooie en ’n bib voor - aan te trek, en dan met ’n bakkie iets wat sy gemaak het, by ’n vriendin te gaan kuier. “Dan het hulle gehekel, pragtige kantwerk. Soms het ’n vriendin weer by haar kom kuier. “Ma het dan ons brood uitgesit vir wanneer ons by die skool uitkom. Een en ’n half sny vir jou, een vir jou, en ’n halwe sny vir jou. “Daar was nooit ’n gedagte om vir nog brood te vra nie, of om vir hulle te steur nie. Dan, as die tannie huis toe gaan, is dit tyd vir wasgoed afhaal, en aandete maak.” Voor aandete het Pentzstraat se kinders dikwels amblou gespeel. Twee strepe is oor die straat getrek en die kinders is in twee spanne ingedeel. Die een span moet hardloop en die ander verdedig die gebied tussen die strepe. As iemand dit reg kry om deur te glip, dan skree almal “Amblou!” “Sondae het Pa nooit met geld gewerk nie. In die huis was daar ’n potjie vol stuiwers en pennies en ons kinders het geweet wie neem ’n stuiwer en wie neem ’n pennie kerk toe.” In daardie dae het ’n mens altyd geweet wanneer daar iemand dood is, vertel Charlotte Cupido. “Want dan sien jy iemand kom aangehardloop met ’n sinkplaat, en daar kom nog iemand met bloekomblare. Toe, omdat daar nie ’n lykshuis was nie, is die lyk op ’n sinkplaat op ’n bed bloekomblare uitgelê, met ’n sakkie sout op die maag.” Al die families het ook hulle eie dokters gehad. “Ons s’n was dr Van der Merwe. Ons bruinmense het altyd eenkant op die spreekkamer se stoep gesit en wag terwyl die witmense ingegaan het. Dan wanneer die dokter tyd het, dan roep hy jou in. “Eenkeer het ek vreeslik gehoes, toe sê hy vir my, as jy volgende jaar nog so hoes, is dit sandkombers vir jou.” Dié dokter het ’n goeie sin van humor gehad en was lief om mense te terg, onthou sy. Eendag sit sy en haar baie godsdienstige tannie op die dokter se stoep. Toe sy vra vir haar pille, sê die dokter, “Ek kan julle nie verstaan nie. Sondae sit julle in die kerk en sing Here, Here neem my saam, maar van Maandag tot Vrydag, is dit Dokter, Dokter maak my weer gesond!” Bygelowe en spookstories was daar ook. In Pinestraat se groot denneboom het mense gesê, sit ’n groot bondel wasgoed. Loop jy laataand onder die boom, val dit op jou kop. “In 1944 het ’n storie die ronde gedoen van ’n dierasie wat kinders vang,” vertel sy. “Hulle het hom die na-droe-jakkals genoem. Hy het die manier gehad om te tjank met twee kort blawwe agterna. Mense was baie bang vir hom. As jy hom hoor, dan kom jy nie sommer uit die huis nie.” Van al die gebruike en tradisies, is dit die Squares wat hulle destyds gedans het, wat sy die meeste mis. “Daar was altyd vier Squares - Caledonian was een - en elke Square het sy eie musiek gehad. “Ons het altyd sulke lang rokke gedra, met ’n string pêrels om die hals. Dan kom die man eers vir jou ma en pa vra of hy vir jou kan uitneem. Dit was lekker dae.”
More
News
|