Afskeid van belowende student
2008-06-26
“MEMORIES last forever.” Met dié woorde, ’n aanhaling uit een van sy gedigte, is een van die Paarl se omgee-mense vandeesweek deur familie en vriende gegroet. Werner van Tonder (22), sielkundestudent by Maties, is verlede Vrydag op die Klapmuts-Stellenboschpad in ’n fratsongeluk dood. Hy was in sy Uno betrokke in ’n botsing met die Subaru van Victor de Cruz, nog ’n Paarliet, wat getol het toe dit ’n plas water getref het naby Lievland-wynplaas net buite Klapmuts. Werner is op slag dood, en De Cruz is met beenbeserings in die Paarl MediClinic opgeneem. “Werner was op pad Stellenbosch toe om aansoekdokumentasie vir sy meestersgraad in sielkunde te voltooi,” sê sy pa, Wessel van Tonder. “Hy was ’n omgee-mens, iemand wat ander op die hart gedra het. Hy was betrokke by die Watergarden-jeugprojek op Klapmuts waar opheffingswerk onder kinders gedoen word. “Werner het daar selfs met ’n klein biblioteek begin. So ken ons hom, opgewonde oor wat hy aangepak het en iemand wat toegelaat het dat die son op ander mense ook skyn. “Sy droom was om sielkundige te word, om met mense te werk.” Op universiteit het dié oud- Gimmie as tutor vir eerstejaarstudente opgetree en was ook Pieke se tweedejaarskomiteevoorsitter. Rudelle Spiron (21), vriendin van Werner vir die afgelope sewe jaar, het kort voor sy dood die laaste SMS van hom gekry. “Werner was lief vir almal. Hy het ook liedjies geskryf,” sê sy. Werner laat sy pa Wessel, ma Wilna en broer Francois agter. Die begrafnis vind vandag om 11:00 vanuit die Toringkerk in die Paarl plaas.
More
News
|