Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Ligloop vir likkewaan se kake

Ligloop vir likkewaan se kake
 
2008-07-03


VEEARTSE word dikwels gebyt deur honde en katte, maar ’n Paarlse veearts het onlangs vir die eerste keer ’n onderonsie met ’n kwaai likkewaan gehad.

Die likkewaan is gevind in die werf van ’n Kaapse maatskappy wat skroot hanteer. Aangesien likkewane nie plaaslik voorkom nie, word aanvaar dat hy met een van hierdie vragte (wat van so wyd as Beaufort-Wes kom) ingekom het. Likkewane kom wel in die Karoo voor.

Hiervandaan is hy gebring na Butterfly World by Klapmuts, wat ’n lisensie het om likkewane aan te hou.

Die kurator daar het gesien die dier is baie verswak en ontwater en het hom ingebring na die dierehospitaal vir ondersoek.

Dit was tydens hierdie ondersoek dat Du Plessis sy regterpinkie in die dier se bek moes druk om te kyk of alles daar pluis is.

Nou soos almal weet wat al “Crocodile Hunter” op TV gekyk het, slaan enige krokodil onmiddellik sy bek toe om enigiets wat raak aan die binnekant van sy bek.

Du Plessis vertel: “Sy kleinboet, die likkewaan, is natuurlik geen uitsondering nie en laat toe geensins op hom wag nie en sluit toe letterlik sy kake om my pinkie - alles in ’n blits.

“En hoe meer die personeel sy bek probeer oopbeur, hoe stywer sluit hy met sy vlymskerp tande wat insny tot op die been. Ek kon maar net daar sit en suffer en die dormante 75% van my verstand inspan om planne te beraam om myself te ontset.

“Ons het toe uiteindelik daarin geslaag om met ’n skroewedraaier sy kake oop te wig. Ná die tyd sou ek by ’n reptielkundige uitvind dat likkewane dadelik hulle kake verslap as ’n mens hulle in louwarm water hou!

“Die gevaar wat likkewaanbyte vir mense inhou, is gewoonlik bloedvergiftiging weens die baie gevaarlike bakterieë wat hulle op hulle tande dra en ek het begin voorsorgmaatreels tref daarteen, want dit kan dodelik wees.

“Ek het egter ander snaakse simptome begin wys, insluitend lighoofdigheid, naarheid en erge spierpyne veral in my nek, wat gemaak het dat ek vir ’n paar uur moes huis toe gaan.

“Hierdie simptome het nie gestrook met bloedvergiftiging nie en die middag, toe ek begin beter voel, het ek begin rondbel en uiteindelik uitgekom by ’n reptielkundige van Wits Universiteit.

“Volgens hom is likkewane inderdaad nogal giftig en stem my simptome presies ooreen met dié van ’n vrou in Johannesburg wat ook deur n likkewaan gebyt is ’n rukkie gelede.

“Sy was die eerste opgetekende geval van vergiftiging weens ’n likkewaanbyt. Dit is maar eers baie onlangs dat navorsers uitgevind het dat likkewane gifkliere in hulle kake het.”

Die goeie nuus is dat dit nie ’n baie gevaarlike gif is nie. Du Plessis se simptome van erge spierpyne was sonder enige behandeling die volgende oggend heelwat beter, en sy vinger verbasend min seer of ontsteek.

“Mense word gereeld gebyt deur likkewane, maar hulle wys gewoonlik simptome van bloedvergiftiging.

“Ek sou waarskynlik baie swaarder gekry het as ek bloedvergiftiging gekry het, maar dis nou een voordeel van my werk: ek word so gereeld gebyt deur allerhande gediertes dat ek al immuun is teen die meeste van hulle kieme.”




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za