Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Lag-lag honderd

Lag-lag honderd
 
2005-07-07

Susan Botha

’n SIN vir humor is die belangrikste van alles, sê mej Hannie Claasen, wat verlede Woensdag haar honderdste verjaardag gevier het.

“Dit is tragies as mense nie ’n humorsin het nie.Om die lewe in te gaan, om gesond te wees, moet ’n mens kan lag.”

Honderd jaar is ’n mylpaal wat nie baie mense beskore is nie, maar juffrou Claasie (soos almal haar ken), is nie veel gesteur nie.

“Ek verstaan nie hoekom mense wil kom kyk na ‘die tannie wat 100 is’ nie,” sê sy en dan met ’n vonkel in die oog: “Ek het al onder die bed probeer wegkruip, maar dit was te laag.”

Juffrou Claasie is op Victoria-Wes gebore. Hiervandaan is sy Kaapstad toe, waar sy al die jare skoolgehou het.

“Die kinders hou ’n mens ook jonk. Ek was baie lief vir hulle, maar ek was ook streng en het hulle nie bederf nie.” Die deernis in haar oë vertel egter ’n ander storie.

Een van die staaltjies wat sy goed onthou, is van die dogtertjie wat in die gang staan en huil het. Op haar vraag, het die kind gesnik dat sy huil omdat sy net een maatjie het.

“Ek het haar ’n drukkie gegee en gesê ‘toe maar, nou het jy twee’.”
Dit is hierdie omgee vir ander wat maak dat van haar leerders nog steeds kontak hou met haar.

Juffrou Claasie is nooit getroud nie: “Ek het nie mans vertrou nie. ’n Mens sien maar dingetjies deur die jare wat jou twee keer laat dink.”
Dan met ’n stout glimlaggie: “Soms het ek selfs ‘ja’ gesê op die groot vraag, maar nooit by die stap uitgekom nie”.

Sowat dertig jaar gelede het juffrou Claasie Paarl toe getrek en by haar suster kom woon.

Sy was een van die eerste intrekkers in Huis Vergenoegd en vandag is sy die langslewende van dié groep.

Juffrou Claasie geniet goeie gesondheid.

“Sy drink geen medisyne nie, maar sy het nou die dag gekla dat sy nou ’n bril begin nodig kry vir lees,” vertel suster Marie du Plessis, hoofverpleegkundige by die siekeboeg.

Suster Du Plessis was aan die hoof van die reëlings vir die spoggerige verjaardagparty wat verlede week vir haar gehou is. “Ek wou dit graag doen, want sy is so ’n spesiale mens,” vertel sy.
“Almal het gehelp, selfs Zomerlust Spar het ’n reuse koek vir haar gebak.”

In die woorde van Susann Marais: “Mej Claasen is uitermate begenadig omdat sy so geliefd is en sy is so geliefd omdat sy so baie goed gedoen het aan haar medemens.

“Om ouer te word en met grasie ouer te word, verg moed. As jy jonk is, is daar veel om jou selfvertroue te gee: die jeug op sigself is mooi, vars en vrolik.

“Die ouderdom met sy skete, pyne, gebreke, teleurstellings, ontnugterings, verlede, kan ’n mens wat nie wys en moedig is nie, weemoedig maak.

“Mej Claasen egter, het steeds vriendelik, soet en fraai gebly en elke lewensomstandigheid met en geloof in God deurleef."

* A Paarlite celebrated her 100th birthday last week in good health.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za