Dominee kán vasbyt
2005-07-07
Leon Steenkamp
’n PLAASLIKE predikant het behoorlik stof geskop in die oë van sy teenstanders tydens ’n moordende 2000km bergfietswedren wat Maandag geëindig het. Boonop trek hy Woensdag 09:30 saam met 200 roeiers weg op die Bergrivier Kanomarathon.
Wessel Cronjé, ’n predikant by die Drakenstein NG Gemeente, was van plan om vanjaar aan beide die Comrades Marathon en die Bergrivier Kanomarathon deel te neem.
David Waddilove, organiseerder van die Freedom Challenge Extreme Triathlon, het van sy planne te hore gekom en Cronjé oortuig om aan die avontuur-resies deel te neem wat die Comrades, ’n bergfietstoer van Pietermaritzburg na die Paarl, en die Bergrivier Kanomarathon insluit.
Wessel wat alleen as Team Safari bekend staan, is een van ses spanne wat aan dié tawwe resies deelneem.
Dimitri Kiefer van VSA is die enigste ander atleet wat man alleen aan die wedloop, wedren en wedvaart deelneem. Die orige vier spanne bestaan uit drie lede wat in die drie geleenthede spesialiseer.
Nadat Cronjé op 16 Junie die Comrades voltooi het, het hy en die res van die Freedom Challenge deelnemers die volgende dag op hul bergfietse geklim en die lang pad van Pietermaritzburg na die Paarl aangepak.
Die roete wat oor 2200km gestrek het en minder as 60km teerpad ingesluit het, het die deelnemers omtrent getoets.
“Die paaie was baie veeleisend. Ek moes my fiets se skokbreker op Willowmore vervang,” vertel Wessel wat in ’n paar velskoene die tog voltooi het.
“Ek het baie genade ervaar en baie naby my Skepper gevoel. Ek het my afhanklikheid van fisiese krag en veiligheid telkemale beleef,” het Wessel gesê.
Navigasiewerk, klipperige voetpaadjies, bibberende koue en lang, eensame ure het daagliks Wessel beide fisies, sielkundig en geestelik getoets.
Sy taktiek en deursettingsvermoë het egter op die vyfde dag die wedren in sy guns laat swaai.
“Daar was slegs een plek op die roete waar jy die keuse van ’n alternatiewe roete gehad het.
“Ons moes oor die Lehana-pas, ’n voetpaadjie, stap met die fietse uit die Transkei op pad na Rhodes.
“Omdat die weer dreigend gelyk het en ek op daardie stadium ’n twee uur voorsprong gehad het, het ek besluit om eerder ’n langer pad deur die Naudé-pas te volg.
“Die pas is 2500m hoog en sou my drie uur langer geneem het, maar ek het gevoel dis die meer verantwoordelike besluit,” vertel Wessel.
Intussen het die res van die deelnemers oor die Lehana-pas verdwaal.
“’n Insulasie-kombers en baie vrugtestafies en lekkers het my die nodige warmte en energie gegee om elke dag baie kilometers af te lê.”
Wessel is Maandagaand deur ’n groep familie en vriende by die eindpunt by Nederburg Wynlandgoed verwelkom.
Sy aankoms het met heelwat trane gepaard gegaan - en ’n bos blomme.
“Ek wou baie graag by die eindpunt uitkom met blomme vir my vrou, Lomé.
“Toe ek dus deur Dutoitskloof kom, het ek gereël dat die Van Devernters vir my langs die pad wag met ’n bos proteas,” vertel hy met ’n glimlag.
Hoewel hy beslis ’n talent vir uithou-resies het, sê Wessel, sal hy nie weer volgende jaar aan die Freedom Challenge deelneem nie.
“Ek het my familie baie gemis en my vrou moes baie opgeoffer het vir my in die tyd wat ek weg was.
“Ek sou graag weer gedeeltes van die roete met ’n fiets wil ry, miskien eendag saam met my kinders, maar dit is moeilik.”
Wessel sien uit daarna om Woensdagoggend die Bergrivier Kanomarathon aan te pak.
* A local minister is ahead in the Extreme Triathlon involving the Comrades Marathon, the Berg River Canoe Marathon and a cycling marathon in between.
More
News
|