Vandag sal daardie selfde Colcleer pilletjies vir jou eers R170 vir ’n afspraak by jou dokter kos, want dit is volgens nuwe wetgewing nie meer net oor die toonbank sonder voorskrif beskikbaar nie.
En al kry jy die voorskrif, is die pilletjies steeds nie bekombaar nie, want daar is geen voorraad nie.
Asof die wetgewing in 2004, wat aptekers genoodsaak het om wysigings aan die verkoop van voorskrifmedisyne te maak nie ’n swaar genoeg slag was nie, is die veranderings aan medisyneskedules die finale spyker in die doodskis van kleiner apteke.
Die rede? Pers pilletjies (en ander dekongestiewe middels) bevat pseudo-efedrien wat deur dwelmmisbruikers as opkikkers en vir die maak van Tik, opgeraap word.
Volgens ’n omsendbrief van die Aptekersvereniging van Suid-Afrika plaas die onlangse veranderings aan die medisyneskedules dié addisionele beperkings op die verkoop van sekere produkte wat tot nou direk van die apteker beskikbaar was.
Sekere preparate is geherskeduleer tot Skedule 6 en benodig ’n geskrewe voorskrif. Dit is, volgens die Aptekersvereniging, om veiligheidsredes dat produkte wat D-norpseudo-efedrien en pseudo-efedrien bevat as ’n enkelbestanddeel, herklassifiseer is.
’n Aantal dekongestie- asook verslankingspreparate is in hierdie kategorie.
Beperkings op die verkoop van middels en mengsels wat efedra alkaloïede, efedrien en pseudo-efedrien bevat, soos bekende verkoue en griepprodukte, behels die beperking van sterktes en hoeveelhede.
Houers moet nou deur die apteker herverpak word, want net 12 pille of 100ml hoesstroop mag op ’n slag verkoop word, en net een pakkie of een botteltjie per pasiënt.
Die verkoop moet aangeteken word en die rekord moet die volle besonderhede van die pasiënt, die dosis en hoeveelheid, verkoopsdatum en verwysingsnommer, insluit.
“Die mense is baie ongeduldig, veral oor die pers pilletjies,” sê aptekers.
“Vir ons is dit nog ’n slag, want oor die toonbank medisyne is ons brood en botter.”
So vir diegene wat nog verlede winter se R9,95 ’n pakkie Colcleer en Sinucon pilletjies in die medisynekas het, bewaar dit soos goud. Dis wat dit nou werd is wanneer die gekielie in die keel kom.
* Changes to the Pharmaceutical Act (due to drug misuse) have made it impossible to buy common cold remedies over the counter.