Vir Vissie kry jy nie gevang nie
2008-07-24
Malané Bosman
VIR Kobus Visser kry jy nie dood nie, nie eens as jy ’n knopiespinnekop is nie. Dié Paarlse motorverkoopsman was ’n maand gelede by Uilkraalsmond besig om rooikransbosse uit te trek, toe iets hom onder sy sweetpakbroek steek. “WP was 6-17 agter teen NoordTransvaal. Ek het die ding gevoel in my broek en gedink dis ’n takkie,” onthou hy. “Ek was aan die vuurmaak en het al so ietsie agter die blad gehad. En ja, toe wen WP 25-17.” Die volgende naweek was Vissie weer by sy plekkie by die see, toe met erge griepsimptome. Hy vertel hoe sy vrou, Hessie, hom moes vasdruk soos hy van die koue gebewe het. Terwyl hy hom die Maandagaand ná ’n stort afdroog, het hy gevoel sy enkel was dik geswel. “Sien, ek het al ’n pensie en moet my voet op die bad se rand sit om te kan sien,” spot hy met homself. “Toe weet ek hier’s ’n vreeslike foutjie.” Sy dogter, Ronél, het gekyk, en haar boeglam geskrik vir die pers, geswolle enkel met die drie bytplekke. Dieselfde aand nog was Vissie by ’n noodkliniek. “Ek kon aan die dokter sien sy skrik ook,“ sê hy. Met ’n inspuiting in die boud is Vissie eers huis toe, voor die volgende dag se bloedtoetse vir moontlike slangpik, spinnekop- of bosluisbyt. Woensdag was die uitslae daar. Dit was toe ’n spinnekop, “daai blêrrie dingetjies wat so volop is in die bosse”. Met Vissie se geskiedenis van ’n vyf-le- dige hartomleiding (in 1996), probleme met cholesterol, bloeddruk en suiker, het hy saam met die dokter gestem, “’n wonderwerk word benodig”. “Donderdag was my been ’n lelike gesig. Ek was baie bang, ek weet wat gebeur met suiker. Eers sit hulle jou toon af, en dan jou been, en so gaan hulle hoër.” Hy drink toe elke dag twee hande vol pille om gesond te word van die griepsimptome, wat eintlik spinnekop-vergiftiging was. Tot Dinsdag verlede week, toe Vissie en sy vrou op Wolseley by vriende gaan kuier het. “In die reën en die koue met die sneeu op die berge het ons gekuier, toe ek die aand elf-uur voel my oë begin bewe. En skielik kon ek niks meer sien uit my linkeroog nie.” Die diagnose: ’n beroerte weens sepsis van die bytplekke, vertel Vissie. ’n Breinskandering het dit bevestig. “’n Bloedklontjie het losgekom en die oog vermoedelik onherstelbaar beskadig. “Daar’s altyd sulke swart bliksempies in die leë perlemoenskulpe wat ek langs die see omdop. Maar hierdie een het my toe gepak.” Vissie het navorsing gedoen, en hy is net dankbaar dit was nie ’n vioolspinnekop of ’n sakspinnekop of die knopiespinnekop met die rooi kolletjie, wat gebyt het nie. Hy het ook glo uitgevind dat die twee glase wyn wat hy gedienstig elke dag drink (saam met hartspesialis dr Wouter Basson se daaglikse bloeddunhou-dis- prins) gehelp het dat die klont nie groter was nie. “Nou’ s ek blind in die een oog. Dis ’n lelike aanpassing, veral met stap en ry. Maar die dokters sê ek’t genoeg brein oor om karre te verkoop. “En dank die Vader al my ledemate werk nog, so goed soos dit kan op 60!!” “My hartaanval was by Uilkraalsmond en toe het die spinnekop my daar gebyt. Dis dié dat ek die naweek terug is see toe. Daar het ek my hoed afgehaal en dankie gesê dat ek nog ’n kans gegun is.” * A Paarl motor salesman lost the sight in one eye after a button spider bite
More
News
|