Carel kom waar min ander sou
2008-07-24
Malané Bosman
SONDER doelwitte sou Carel du Plooy van die Paarl nooit oorleef het nie, nie nadat ’n motorongeluk vyf jaar gelede hom verlam gelaat het nie. Vandag is dié jong man (25) terug agter sy makelaarslessenaar, wel nog in ’n rystoel, maar met sy ou lewensvreugde. En so verklap hy met ’n vonkel in die oog ’n volgende doelwit - vrouegeselskap. Terwyl Carel du Plooy in 2001 matriek geskryf het, het hy geweet hy gaan soos sy pa as versekeringsmakelaar werk. Hy was so seker van sy toekomsberoep dat hy twee dae ná sy matriekeksamen met opleiding begin het. Enkele maande later was hy deel van die personeel van die Paarl Metropolitan tak van Absa en op sy kenmerkende energieke manier, besig om ’n wye kliëntebasis te bou. Tot die aand van 14 April 2003, toe Carel saam met ’n vriend agter die stuur, van die Taalmonument terug dorp toe gery het. Dit was die laaste minute van Carel se sorgvrye lewe. Toe die bakkie ’n boom tref en op sy dak beland, is Carel se nek gebreek, met skade aan die ruggraat. Die fraktuur het hom gelaat met gevoel, maar met weinig beweging. Carel was tien dae in intensiewe sorg en meer as vier maande in ’n spinale eenheid in Wynberg voordat die eindelose dae, maande en jare van ’n uitputtende rehabilitasie-program sou begin. Intussen was daar ook verdere operasies om onwillekeurige spasma te beheer. “Die moeilikste was die aanpassings,” onthou Carel. “Ek het my onafhanklikheid verloor. My ma-hulle moes my jare lank elke drie uur in die bed draai. Nou kan ek myself draai,” spog hy. “En daarna die mense wat om jou, verby jou, praat as jy in ’n rystoel is. Soos om vir my ma langs my te sê ‘haai, kyk hoe mooi het hy reggekom’. “Dan wil ek eintlik sê ek is nog wie ek altyd was, ek beweeg net nou anders. “Ek het van die begin vir myself doelwitte gestel. Ek moes fokus daarop om die beste te maak van my situasie. “So het ek myself erg gedruk in die gimnasium, en in 2006 kon ek vir my ’n motor koop wat aangepas is sodat ek self kan bestuur. “Kyk, ek kan self bietjie loop,” spog hy en staan uit sy rystoel op en demonstreer versigtige, maar trotse, treë in sy kantoor. “Maar ek het nooit kon droom dat ek weer sou kon werk nie - al het my pa geglo ek sou. ”Ek het besef dat ek my werk baie mis, die spoed, die stres.” Verlede jaar het hy sy werkstas gepak en vandag, met die bystand van sy assistent Willie Stoffels, groei sy besigheid weer, al reis hy minder noudat hy rystoel-gebonde is. “In my 21 jaar as arbeidsterapeut het ek nog nooit iemand so besonders soos Carel ontmoet nie, ook nie so ’n spesiale gesin nie,” sê Elise Burns-Hoffman. “Sy gees en deursettingsvermoë is ’n bron van inspirasie.” Behalwe die glimlag oor die nadernooi van vroue-geselskap, beplan Carel om ook iets besonders te bereik in sport. Hy het reeds by die rolstoel-rugbyklub in Stellenbosch aangesluit en kyk na moontlike deelname in handfietsrenne. “Ek moet net nog sterker word om die span te haal,” sê hy, en mens weet sommer ook daardie doelwit sal vir Carel nie net ’n droom bly nie.
More
News
|