Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Van spoghuis tot spookhuis

Van spoghuis tot spookhuis
 
2008-07-31

Lise Beyers

HOOG teen die hange van die Limietberge, bo Wellington, staan ’n eensame monument wat eens begin het as ’n droomhuis en toe twee keer geëindig het as ’n spookhuis.

Die hele tragiese verhaal het in 1938 begin, toe bekende Wellington-boer en sakeman PJ Hugo ’n stuk grond gekoop het teen die berg, naby Gawie se Water.

Hugo was ’n pionier van die konfyt-industrie, en het een van die land se eerste konfytfabrieke in Wellington tot stand gebring.

Sy droom was om ’n spogwoning hoog teen die hange van die berg te bou, waar hy eendag sou aftree. Hy het beplan om aarbeie te plant in die sanderige grond langs die oewers van die Witrivier.

Die uitsig wat die huis sou gehad het, is seker van die mees asemrowende in dié gebied.

En Hugo het groot gedroom.

Eers moes daar ’n pad gemaak word teen die hange van die berg, deur uiterste moeilike en klipperige terrein.

Konstruksie aan sy droomhuis het in 1940 begin, met 30 bouers en ambagsmanne.

Slegs die beste boumateriaal is gebruik, sowel as hout en selfs marmer vir die vloere. Geen onkostes is gespaar nie.

Die noodlot het egter getref en Hugo se droom om met sy aftrede op die stoep van sy droomhuis te sit en oor die hele Wellington-vallei uit te kyk, was aan skerwe toe hy ernstig siek geword het. Hy het op 15 Maart 1941 gesterf voordat die huis voltooi was. Dus het Hugo nooit die vrugte van sy droom gepluk nie.

Alhoewel die spogwoning wel voltooi is ná sy dood, het niemand die huis bewoon nie.

Volgens legende was sy vrou van die begin af gekant teen die huis en sy het nooit haar voete hier gesit nie.

Slegs familielede het nou en dan gebruik gemaak van die huis.

Maar die meeste van die tyd het Hugo se droomhuis in stilte en eensaamheid leeg gestaan.

Uiteindelik is die hartseer huis in Februarie 1949 verwoes deur ’n veldbrand.

Die Paarl brandweer het wel na die toneel gejaag, maar hulle was te laat om die huis te red.

Byna dertig jaar nadat Hugo se droomhuis in ’n murasie verander is, het nog ’n tragedie dié huis getref.

’n Jong studentepaartjie van Kaapstad, het naby die ruïnes gekampeer.

Nadat hulle gaan stap het, het hulle op ’n man afgekom wat deur hul besittings rommel.

’n Gestoei het ontstaan tussen die boef, John Smith. en die man. Die man is toe met ’n mes gesteek en hy het doodgebloei.

Sy vriendin het in die murasie gaan skuil, maar Smith het haar ingehaal en wreedaardig binne die huis vermoor.

Smith, ’n ontsnapte gevangene, is ná ’n reusesoektog op ’n plaas in De Doorns gearresteer.

En so het Hugo se droom vir die tweede keer in ’n tragedie verander.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za