Kinderhuis se hoof groet
2008-07-31
DINSDAGAAND 22 Julie het die Beheerraad van Huis Andrew Murray afskeid geneem van Dolf Etsebeth wat die afgelope 25 jaar aan die hoof van dié Kinderhuis gestaan het. Etsebeth het bekend gestaan as die man (saam met sy vrou Madré) wat gestalte gegee het aan die Kinderhuis. Vir die afgelope 25 jaar het die Kinderhuis nooit gebuk gegaan onder finansiële nood nie, maar gegroei danksy sy uitstekende administrasievermoë. Volgens Flip Viviers (Beheerraadvoorsitter), was Dolf “’n nagmerrie vir Wellington se sakelui in ’n baie goeie en positiewe sin. “Daar is baie dank verskuldig aan Wellingtonners, sakeonder- nemings en sakepersone vir hul volgehoue en ondersteuning aan die Kinderhuis. “Dolf het hoë morele standaarde vir die Kinderhuis nagestreef. Hy het ’n veilige hawe vir verwarde kinders geskep waarvan’n menigte van die 3800 oud-inwoners vandag in verskeie gemeenskappe uitgestyg het. “Onder hulle tel lede van die Polisiediens, terwyl baie ander vandag spog met universiteitsgrade. “Dolf Etsebeth was baie gesteld daarop dat ‘sy kinders’ erkenning vir hul prestasies moes kry en daarvoor het hy ’n spesiale sertifikaat ontwerp wat aan hierdie kinders toegeken is. “Die Kinderhuis Beheerraad het dit dus goedgedink om ook aan Dolf so ’n sertifikaat van erkenning uit te reik,” het Viviers gesê. Etsebeth se opvolger is Johan von Wielligh, ’n opgeleide maatskaplike werker en sakeman.
More
News
|