Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Appelkose in oorlogstyd

Appelkose in oorlogstyd
 
2008-07-31

Marguerite Lombard

VIR meer as tien jaar het ’n bejaarde Italiaanse krygsgevangene wat tydens die Twee Wêreldoorlog op Wellington gewerk het, weer kontak probeer maak met mense op die dorp.

Verlede jaar het Anna-Rita van der Westhuizen toevallig sy brief in die Paarl Post gesien, en onlangs die geleentheid gehad om hom te besoek.

“Ek het altyd ’n belangstelling gehad in die geskiedenis van die Italiaanse krygsgevangenes, en die naam Sibratti Sabatino het baie bekend gelyk.

Toe onthou ek dat my pa altyd gepraat het van die Italianers wat op sy pa se plaas kom appelkose pluk het, en onder andere van ’n Sibratti Sabatino of Sabee soos hy genoem is.”

Soos die toeval dit wou hê, was dit die een en dieselfde persoon.

Sibratti Sabatino was tydens die oorlog ’n jong man van so 24 en een van duisende Italiaanse soldate wat in Egipte gevange geneem is deur die Geallieerdes.

In totaal is ongeveer 60 000 van hulle na Suid-Afrika gestuur.

Op Worcester was daar ’n groot kamp en van daar is die krygsgevangenes uitgeplaas om arbeid te verskaf op plase. So het ‘Sabee’ kennis gemaak met die Cillié-familie van Slangrivier.

Op Slangrivier self het krygsgevangenes nie gewoon nie, maar hulle het wel op die plaas gewerk.

“My pa is al in 1986 oorlede, maar ek skryf toe vir Sibratti Sabatino ’n brief met ’n foto.”

Toe Sibratti Sabatino vir haar in Desember verlede jaar bel, was hy al amper 90 jaar oud, en baie hartseer dat hy nooit weer Suid-Afri­ka sou sien nie.

Anna-Rita vertel dat sy net daar besluit het dat sy en haar gesin hom sou besoek.

“Hy vertel dat hy my pa en die plaas nog goed kan onthou,” vertel Anna-Rita.

“My pa was tydens die oorlog ’n seun van 12 en het uiteraard baie in die oorlog belang gestel.

“Die Italianers se stories oor die oorlog moes ’n groot indruk op hom gemaak het. Nuus toe was ook redelik skaars, en hier kon hy met mense praat wat eerstehandse kennis gehad het oor die verloop van die oorlog.”

Sy vertel dat dit altyd ’n gemis was in haar pa se lewe dat hy kontak verloor het met die Italiaanse krygsgevangenes, en hy het altyd gewonder wat van die mense geword het.

“Om met ‘Sabee’ te kon praat was soos om ’n stuk van my eie geskiedenis weer terug te kry.”

Sy het haar Italiaans begin opknap en kort voor lank is die Van der Westhuizen-gesin op pad na Cogolo in Noord-Italië.

Sy vertel dat Cogolo ’n baie klein dorpie aan die voet van die Italiaanse Alpe is.

“Dit het seker 3 000 inwoners, en ek vermoed ons het al 3 000 ontmoet. Die vriendelikheid en gasvryheid was ongelooflik.”

Ter herinnering aan die vyf jaar wat hy in Suid-Afri­ka deurgebring het, het hul­le vir die bejaarde ‘Sabee’ ’n penning laat maak met die Suiderkruis aan die een kant en die woorde “ons sal nie vergeet nie” in Italiaans aan die ander kant.

Met so ’n ontmoeting besef mens hoe ’n oorlog families se lewens ontwrig het. Sibratti Sabatino vertel dat hy sy hele jeug aan die oorlog opgeoffer het.

Hy onthou toe hy oorlog toe is, was sy ma se hare nog pikswart. Toe hy weer terugkeer, was dit grys. Al het hy vanuit Suid-Afrika geskryf dat dit met hom goed gaan, was die pos stadig.

Anna-Rita vertel dat die Suid-Afrikaanse regering aanvanklik 120 000 krygsgevangenes verwag het. Die Zonderwater kamp 120km buite Johannesburg was baie goed ingerig, met skole en opleidingsgeriewe.

Die krygsgevangenes het nie net op plase gewerk nie, maar in die Paarl het hulle onder andere ook gehelp om die Dutoitskloofpas te bou.

Ná die oorlog het hulle ook ’n kruis op Hugenotekop in Du Toitskloof opgerig om hulle verblyf in Suid-Afrika te herdenk, en as herinnering van vriende wat in die oorlog dood is.

Anna-Rita is tans besig om saam met Domenica Ferrucci die geskiedenis van die Italiaanse krygsgevangenes in die Paarl en Wellington op te skryf.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za