Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Melkkoors en handsentrales maak veearts se lewe moeilik

Melkkoors en handsentrales maak veearts se lewe moeilik
 
2008-07-31

Marguerite Lombard

VEEARTSENYKUNDIGE, dr Tertius Schneider, is vandag afgetree, maar in 1951 toe hy sy praktyk in Kerkstraat 54 begin het, was hy Wellington se eerste veearts.

Dit was die tyd voor selfone en die handsentrale kon ’n handige diens lewer en vinnig vir ’n kliënt inlig waar die veearts is; maar daar was geen genade nie vir ’n melkboer wat donkernag bel om te sê sy koei het melkkoors.

“Ek het baie ver gery, want in daardie tyd het boere nog heelwat perde gehad, veral trek-perde om in die wingerde te ploeg.”

So, vertel dr Schneider, is hy een aand uitgeroep om na ’n Percheron hings te gaan kyk op die Pickstones se plaas in Simondium.

“Percherons is gewoonlik baie rustige perde, en ’n mens werk lekker met hulle. Die hings het buikpyn gehad, en ek besluit om hom rektaal te ondersoek om te kyk of ek nie ’n knop of sand kon voel nie. Ek het net mooi my hand binne gehad toe lig hy sy kop. Toe weet ek sommer dadelik hy gaan skop.”

Die hings lig net daar sy agterpote en skop dat hy soos ’n lap deur die stal trek.

“Gelukkig het ek nie my bewussyn verloor nie.

“Die volgende oggend het die hings heelwat beter gevoel, maar my kop het soos ’n pampoen gestaan.”

Koeie met melkkoors kan ’n veearts vroeg laat opstaan en ver laat ry. Soos die winter toe die Bergrivier oorstroom het.

“Die aand, so omtrent sewe- of agtuur, bel ’n boer van anderkant Gouda. Sy koei het melkkoors en ek moet kom. Ek moet ook nie met die teerpad kom nie, want die water het oor die pad gespoel. Ek moet Riebeeck-Wes om ry.”

By Hermon sien hy die rivier is oor die pad.

“Dit kos toe stilhou, waterskoene aantrek, en met ’n flits deur die water stap. Ek sien toe die water is darem nie te sterk nie, ek sal kan deur ry.”

So ry hy Riebeeck-Wes om, en dan weer op ’n grondpad tot by die volgende brug.

“Aan die anderkant is daar nog water en ek sien daar swem geelbek-eende in die pad.”

By die volgende brug is dit weer so. Tot uiteindelik waar die boer en sy koei langs die pad vir hom inwag.

“Toe ons klaar is, verduidelik die boer dat die pad na sy huis ook oorstroom is, ons sal ’n ompad moet stap na die plaashuis toe.

“Ek het maar oorgeslaap, en die volgende oggend toe ek by my kar kom, staan die koei ewe rustig daar en wei.”

Soms kan ’n veearts ook verniet uitgeroep word. So was daar ’n bejaarde paar wat op ’n plaas ver buite die dorp geboer het.

“Hulle het ten minste 12 honde gehad, meestal spanjoele. Hulle het nie kinders gehad nie, en was baie geheg aan die hondjies.

“Ek onthou nog hoe die vrou altyd ’n paar saam met haar dorp toe gebring het; dan parkeer sy onder ’n koelteboom en gee elkeen ’n roomys.

“So bel die oom laat een aand om te sê een van die hondjies voel nie lekker nie. Ek moet uitkom.

“Ek trek my maar aan en klim in die kar. Die plaas was ver met ten minste twee of drie plaashekke om oop en toe te maak.

“Toe ek daar aankom, maak die oom die voordeur oop en die siek hondjie is die eerste een wat my kom verwelkom.”

Miltsiekte is relatief skaars in die Wes­Kaap, maar in 1954 het besmette beenmeel ’n hele aantal vrektes veroorsaak. Miltsiekte is baie gevaarlik, en aansteeklik vir beide mense en diere.

Die betrokke dag is hy van ’n plaas in Paardeberg uitgeroep na ’n groot melkboerdery in Malmesbury. ’n Koei wat vir ’n dag of twee siek was, is dood.

Dr Schneider sny toe niksvermoedend die bees oop, maar toe hy die milt sien, besef hy onmiddellik wat aan die gang is. Sy vermoede is bevestig toe die boer vertel dat sy buurman reeds tien beeste verloor het aan miltsiekte.

“Ek het onmiddellik bloedsmere geneem, en beveel dat almal hulle hande met warm water en seep was, en alles wat moontlik besmet kon wees, net daar vernietig word.

“Ekself is onmiddellik dokter toe vir ’n penisillien-inspuiting. Ek het toevallig ’n voorraad entstof gehad, en kon die volgende dag die beeste gaan inent.”

Miltsiekte het later oor die hele Wes-Kaap voorgekom, entstof het opgeraak en Onderstepoort kon nie vinnig genoeg nog entstof maak nie. Dr Schneider onthou dit was net voor Kersfees en hy het dag en nag gewerk om al die boere se beeste in te ent.

In 1955 het Dr Schneider sy spreekkamer verskuif na Eerste Laan.

“Die praktyk het later net te groot geword en ek kon nie alles behartig nie, dus het ek in 1964 vir dr Longland as vennoot ingekry.

“Ons het later by die kruispad oorkant die kerkhof die dierehospitaal vir groter diere gebou.”

In 1976 het dr Schneider besluit om uit die praktyk te tree en aangesluit by die staat se streeklaboratorium op Stellenbosch.

Die laboratorium lewer ’n diagnostiese diens aan veeartse om te help om probleme wat in die praktyk voorkom, te help oplos.

Hier het sy navorsing verskeie toekennings van die SA Veearts-vereniging ontvang.

Dr Schneider was onder andere die eerste om eenjarige raaigras-vergiftiging in Suid­Afrika te diagnoseer.

Hy was tot met sy aftrede in 1996 aan die hoof van die laboratorium.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za