Daar's altyd nog plek- in haar hart en dalk haar huis
2008-07-31
Malané Bosman
SY slaap nie eintlik saam met 14 honde nie. Daar’s net twee in haar bed - hulle maters slaap op ander plekke in die huis. Dis ook dié dat Nicolette, wynmaker van Wellington, nie bang is vir die drie mans wat een van die dae in haar huisie in die wingerd gaan intrek nie. “Ek het mos my wagte,” spot sy en vryf liefdevol oor die warm lywe wat om haar aandag vry. Nicolette het nooit kon droom hoe haar lewe sou verander toe sy en ’n vriendin een aand besluit het om op ’n advertensie op KykNET te reageer: “Wynboer soek man”. Die vriendin is getroud, toe skryf Nicolette maar in. “Ek het nooit gedink daar gaan iets van kom nie,” lag sy vandag. Maar toe hoor Nicolette sy is op die kortlys van 30, en twee weke later was sy een van tien. En net daar word sy ’n ster op televisie, met die verfilming op die plaas waar sy wynmaak. Groot versigtigheid is aan die dag gelê dat Nicolette nie geïdentifiseer word nie, nie met ’n wynetiket of ’n herkenbare bergspits in die agtergrond nie. Die program is uitgesaai en, vertel Nicolette, die gevis na haar adres het begin. Daar was tot ’n privaatspeurder wat rondgesnuffel het. Nou wag sy in spanning vir die pak briewe wat Maandag by haar afgelewer sal word. Sy moet uit die briefskrywers tien mans kies om te ontmoet en (onder die oog van kameras) mee uit te gaan. “Ek het vriende en familie genooi om te help met die oopmaak van die briewe en die kies. “Mens kan seker nooit regtig weet net van skrywe nie, ’n mens kan mos enigiets op papier sit,”sê sy. “Maar dis alles vir pret. Ek is nie bang om nuwe mense te ontmoet nie.” Nicolette het byna vyf jaar lank oorsee rondgeloop, gepars in Engeland, Spanje en Frankryk en lank in Skotland gewerk. “Ek het die wêreld gesien en nou is ek reg vir settle, maar ek is nie desperaat nie. Ek het nie ’n tekort aan mansvriende nie. “Hoe dit die week sal gaan wanneer drie mans vir die program gelyk in my huis moet bly, weet ek nie. Met een spaarkamer? “Daar lê beslis ’n interessante tyd voor,” lag sy. Met dié het die SPCA-rifrugte Charlie en sy suster Frankie genoeg gehad van die verdeelde aandag, en hulle netjies oor hul nooi gedrapeer. Nicolette het juis die oggend weer een van haar gereelde besoeke by die Dierebeskermingsvereniging afgelê en met ’n katjie huis toe gegaan. Om haar klomp diere in toom te hou, het sy ’n wonderlike raat - ’n spuitkannetjie met water. Sy hoef net die kannetjie op te lig, en die vierbeniges tree al terug. Wonder of dit die onwelkome mans van die mooi vrou sal kan weghou?
More
News
|