Beraders kry toekennings
2008-08-07
DAAR is hierdie maand groot opgewondenheid by Goeie Hoop Sielkundige Diens in die Paarl. By ’n luisterryke geleentheid in Kaapstad is dié gemeenskapsorganisasie aangewys as die naaswenner van die Community Builder of the Year in die Wes-Kaap. Jaarliks soek die Departement Maatskaplike Ontwikkeling in samewerking met Ou Mutual, Die Sowetan en die SABC na individue of groepe wat ’n besondere bydrae lewer om die lewens van gewone mense te verbeter. Vanjaar was Goeie Hoop Sielkundige Diens as so ’n organisasie erken. Goeie Hoop Sielkundige Diens, ’n geregistreerde nie- winsgewende organisasie, is in 2003 deur Elzabé Broekmann, ’n plaaslike sielkundige, en die staatspigiater, dr Gunter Winkler, in Paarl op die been gebring om in die groot behoefte aan sielkundige ondersteuning in die gemeenskap te voorsien. Nog ’n bekende in die gemeenskap, Sara van Tonder, het haar kort na die bekendstelling van die diens, by hulle aangesluit. ’n Soortgelyke diens by Stellenbosch Hospitaal, waarby Broekmann sedert 1996 betrokke was, vorm nou ook deel van Goeie Hoop Sielkundige Diens. Hierdie toekenning verleen erkenning aan die bydrae wat die diens lewer om die lewenskwaliteit van mense wat gebuk gaan onder emosionele probleme, te verbeter, en só die gemeenskap op te bou. Jaarliks word sowat 700 mense gratis van sielkundige hulp voorsien. Probleme soos onder andere depressie, angs, trauma, verhoudingskwessies, rou en gedragsprobleme by kinders word hanteer. Daar is tans ses sielkundiges en beraders wat deeltyds sielkundige hulp verleen by TC Newman Daghospitaal en Stellenbosch Hospitaal. Geleentheid word ook verskaf aan intern-sielkun- diges en beraders in opleiding om hul praktiese ervaring in hierdie organisasie op te doen volgens die vereistes van die Beroepsraad vir Siel- kunde. Daar is ook ondersteuningsgroepe vir psigiatriese pasiënte en hul versorgers, terwyl daar dienste gelewer word by twee afgeleë skole in samewerking met die ACVV. Die Departement Maatskaplike Ontwikkeling se aanbeveling met die toekenning van die prys, is dat Goeie Hoop Sielkundige Diens die vestiging van soortgelyke dienste in buurdorpe nastreef. Die diens is geheel en al afhanklik van die finansiële bydraes van donateurs soos SASKO, Suider-Paarl NG Kerk, ACVV Paarltak en Investec, verskeie individue, sowel as die Departement Gesondheid wat fasiliteite en ondersteuning verskaf. Die dienste van vrywilligers vir administratiewe hulp en fondswerwing om hierdie ideaal te verwesenlik, is noodsaaklik. Vir navrae, kontak Elzabé Broekmann by 021-863-3127 /8 of Peter Molchin by 021-872-4885. Vir afsprake met ’n sielkundige of berader skakel 021-872- 1711 x 2323.
More
News
|