Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Lang pad deur Afrika

Lang pad deur Afrika
 
2008-08-07

Lise Beyers

ALTESAME 17814 km, 17 lande, 48 dae en 697 liter brandstof is wat dit vir ’n Paarliet geneem het om sy droom te verwesenlik.

Wingerdboer Jannie le Roux (jnr) van Vendôme-plaas, Suider-Paarl, droom al baie jare lank daarvan om per motorfiets deur Afrika te toer.

En drie jaar gelede het hy finaal besluit dat hy aan sy droom moet werk om dit op dreef te kry.

“Ek het op die internet navraag gedoen om met nog ’n motorfietsentoesias in aanraking te kom wat ook so ’n tog wou meemaak.

“Dit is nie iets wat ’n mens alleen kan waag nie, nie net om veiligheidsdoeleindes nie, maar ook vir geselligheid.”

So het Le Roux uiteindelik in aanraking gekom met Lindsay Steyn van Prins Albert, wat dieselfde ideaal gehad het.

En nadat visums gereël is en die vertrekdatum vasgestel is, is die lang pad noorde toe aangepak.

Le Roux se geheime wapen is sy F650 Dakar BMW motorfiets. Hy het slegs basiese kampeertoerusting ingepak, asook onderdele vir die wis en die onwis.

Die gekose roete het vir hulle geneem vanaf Suid-Afrika met die weskus op deur Namibië, Angola, die DRC, Congo, Gaboen, Kameroen, Nigerië, Benin, Togo, Ghana, Burkino Faso, Mali, Senegal, Mauretanië en Marokko.

Met Wes-Afrika agter die rug het hulle die Mediterreense Oseaan oorgesteek en is deur Spanje na hul eindbestemming, Frankryk.

Dadelik wil ’n mens weet van allerhande probleme wat langs die pad opgeduik het, veral deur diepste, donkerste Afrika.

Maar, sê Le Roux, probleme was min.

“Die mense was vriendelik en gasvry, en alles wat ons nodig gehad het, soos voedsel en petrol, was vrylik beskikbaar. Net op twee plekke kon ons nie brandstof kry nie, maar ons kon wel die volgende dorp bereik.

“Afrika is werklik ’n pragtige, diverse kontinent, maar dit is wel vervalle. Party paaie was so swak dat ons byna vyf uur gery het aan 50km. En orals is daar verskriklike armoede.”

Alhoewel dinge redelik vlot verloop het, is hulle in die Kongo gewaarsku oor die ‘ninja rebels’ wat berug is vir skielike aanvalle. Le Roux en Steyn is egter ongedeerd deur hierdie land.

“Die enigste struikelblok wat ons ervaar het, was korrupte polisie- en weermagbeamptes wat om elke hoek en draai geld uit jou wou kry.

“Ons het deurentyd egter geweier om enige geld aan hierdie mense te gee, en alhoewel hulle vir ons gedreig het, het hulle ons ongedeerd gelaat.

“In Nigerië het ’n weermagoffisier heel slaags met ons geraak hieroor, maar toe hy besef dat ons onomkoopbaar is, het hy selfs vir ons na ons blyplek geneem en toe eers lekker gesels en grappe gemaak.

“Mali se woestynagtigheid was beeldskoon en baie interessant. Toe ons Marokko bereik het, kon ons voel dat ons nou nie meer in ’n derdewêreld-land was nie, maar in ’n meer gevorderde gebied.”

Die hele tyd het hulle slegs met die hulp van SMS’e in kontak gebly met die mense tuis, om vir hulle te laat weet dat hulle veilig is.

“Ons was heel konserwatief met eet, want daar word maar vreemde geregte opgedis. In Gaboen word daar kat op die spyskaart gesien en in die Kongo het hulle ’n smaak vir hond ontwikkel.

“Dus het ons hoofsaaklik gelewe van ’n dieet van brood, slaptjips en bier.”

Uiteindelik het die tweetal veilig hul bestemming bereik, wonderbaarlik met slegs een pap band langs die roete en net ’n effense probleem met ’n voorste skokbreker.

“Ek is baie dankbaar vir die Here se beskerming en bewaring van enige ernstige teëspoed.”

En wat is Le Roux se volgende avontuur?

“Nou moet ek boer en vrou soek. Dit gaan ’n avontuur van ’n ander kleur wees.”

* A young farmer from Paarl recently travelled by motorbike from Paarl, through Africa, and then to Europe.


More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za