Wyn uit die kerktuin
2008-08-21
Malané Bosman
DIE eerste Strooidak-kerkwyn is in die bottel en volgens liefhebbers én kenners, is die morg wingerdstokke en die vrug daarvan, met die beste kwaliteit geur en smaak geseën. Die vreugdevure het hoog gebrand by die loodsing van die wyn verlede week in die Ou Pastorie regoor die Strooidakkerk in die Paarl se Hoofstraat. Die bekendstelling van die 2006 Cabernet Sauvignon was die eindproduk van jare van voorbrand maak vir die idee van kerkwyn en daarna die werkskaf in die wingerd en toe die kelder self. Soos Hennes Louw, voorsitter van die kerk se wingerdtrust, tereg gesê het: “Party het pale geplant, grond voorberei, gespuit en gepars. Ander het etikette ontwerp en ’n handelsmerk geregistreer. “Die wynbedryf is g’n grap nie. Nog ander het ons uit die tronk gehou met regulasies. As produsent mag jy byvoorbeeld slegs jou wyn op jou landgoed verkoop mits dit nie binne 300m van ’n opvoedkundige inrigting of plek van aanbidding is nie! “So het party dinge máák gebeur en ander het verhoed dat ander dinge gebeur. Party het ondersteun en ander het gebid.” Die Strooidakkerk-gemeente was tot die aand van die voorleggings aan die kerkraad op 27 Maart 2003 verdeel of ’n eiendomsontwikkeling of ’n wingerd gevestig moes word in die tuin van die Ou Pastorie. Wyle ds Danie Lückhoff se bydrae was eenvoudig: “Ons moet ’n wingerd plant en die opbrengs daarvan aanwend in belang van die Here se werk.” Die eerste drag van die jong stokke sou nie geoes word nie. In Maart 2006 was ds Lückhoff egter terminaal siek en het hy vir David Bourbon-Leftley en Derek Clift, die twee boere wat die wingerd onder han- de geneem het, versoek om tog te probeer wyn maak. Die dominee kon toe voor sy sterfte in Oktober 2006 uit ’n vat op De Hoop- plaas proe en vandag is daardie eerste oesjaar opgedra ter herinnering van hom. Die eerste jaar is daar 2,5 ton gepars van die een morg. Die 1200 liter wyn het in vate gelê by Derek Clift op De Hoop voordat dit by die KWV oorgetenk is. Vanjaar is daar 2 100 bottels in 232 kissies, asook 20 magnums, by die KWV gebotteleer. In 2007 is daar agt ton druiwe gepars en vanjaar nege ton. Weens die gekompliseerdheid van dranklisensies, sal die wyn waarskynlik op een slag met ’n daglisensie van die hand gesit word. En die kopers staan reeds tou. Volgens navorsing deur die kerkraad, is dié Cabernet Sauvignon die enigste wyn in Suid-Afrika wat op so ’n skaal op kerkgrond geproduseer word. En soos Hennes sê: “Die dominees wat nie openlik die wynmakery kan onderskryf nie, het darem die verweer dat die eerste wonder wat Jesus op aarde gedoen het, was om water in wyn te verander.” * The first Cabernet Sauvignon wine produced from the Strooidak Church vineyard in Main Street, Paarl, was launched last week.
More
News
|