Niks blou vir Blaauw
2008-08-21
Lise Beyers
VIR Jacques Blaauw is die lewe allesbehalwe blou. Nadat hierdie blondekop gholf-ster in 2004 by Hoërskool Gimnasium gematrikuleer het, het sy gholfloopbaan teen ’n snelle pas vooruitgegaan. Daar is skaars ’n belangrike amateur-toernooi waaraan Blaauw nog nie deelgeneem het nie, en sy volgende stap is om nog voor die einde van die jaar professioneel te draai. Hy word tans deur kenners beskou as een van die top vyf amateurs in Suid-Afrika. As tienjarige het Blaauw vir die eerste keer ’n gholfstok opgetel om saam met sy pa, Piet, te speel. Dit was van die staanspoor af duidelik dat hy ’n natuurlike aanvoeling vir hierdie sport het, en lesse is dadelik begin - eers by Kobus van Rensburg, en hierna by die bekende Ben Fouché. Reeds as 17-jarige knaap het Blaauw die plaaslike gholfwêreld stomgeslaan, toe hy die Boland Ope vir o.23-gholfspelers met vier houe gewen het. Blaauw het verlede jaar in Amerika deurgebring, nadat hy ’n gholfbeurs aan die Universiteit van Oklahoma ontvang het. Hier het hy talle toernooie op universiteitsvlak gespeel en gewen. Aan die einde van die jaar het hy egter ’n beter aanbod ontvang van ’n bestuursmaatskappy wat vir hom verdere deure in die wêreld van gholf kan laat oopgaan. En vanjaar was hy tot dusver volstoom op die gholfbaan besig, nie net in Suid-Afrika nie, maar dwarsoor die wêreld. In Februarie het Blaauw die SA Houespelkompetisie gewen by Pearl Valley en sodoende gekwalifiseer om aan die SA Ope deel te neem. Hiér sal hy afslaan met Trevor Immelman en James Kingston. Hierna was dit sy beurt om die Noordkaap-Ope te ver- ower en in Maart het hy die SA Putjiesspeltoernooi vir amateurs op indrukwekkende wyse gewen in Durban. Die Bolandse geslote kampioenskapstoernooi op Worcester was volgende op sy wenloop, en daarna was dit ’n ware hoogtepunt vir Blaauw, toe hy met sy SA kleure beloon is. Onlangs het hy sewe weke in Europa spandeer, om in belangrike amateur-toernooie in Engeland, Wallis en Skotland deel te neem. In al hierdie toernooie het Blaauw duidelik sy merk gemaak. Nadat hy verlede week ’n vinnige Kaapse draai gemaak het, was hy weer op pad na Kanada om aan die Barrett Amateur deel te neem. En nou is die Eisenhower-toernooi in Blaauw se visier, nadat hy so pas opgeneem is in die Suid-Afrikaanse span wat in Oktober aan hierdie prestige amateur- toernooi in Australië sal deelneem. Die Eisenhower-toernooi is dié amateur-gholfkam- pioenskap in die wêreld, en is ’n hoogtepunt voordat ’n gholfspeler se beroepslewe begin. En dan teen November, sê Blaauw, behoort hy beslis professioneel te draai. “My droom is om eendag die nommer een gholfspeler ter wêreld te wees, en dit beteken dan ook om vir die tier, Tiger Woods, te tem.” Maar alhoewel die gholfbane van die wêreld nou Blaauw se tuiste is, bly sy hart steeds in die Paarl. Sy huis is steeds hier, en sy hart lê steeds na aan sy Alma Mater, Gimnasium. “Dis nog steeds die lekkerste vir my om in my eie bed te slaap en saam met my ouers om ’n braaivuur te sit.” Met sporthelde soos Schalk Burger en Jean de Villiers wat Paarl se naam hoog hou, is dit duidelik dat Blaauw se naam binnekort in dieselfde asem as hulle s’n genoem sal word.
More
News
|