Om te kan ontspan
2008-08-28
Malané Bosman
DIS tog te lekker om van die mans en die kinders en die gewoel van ’n huis weg te kom – om net te kan ontspan. Dis hoekom die sewe lede van die vroueklub van Olifantskop-plaas op die Bo-Hermonpad buite Wellington, nie kan wag vir hul byeenkomste nie. Dié een aand elke maand kan hulle sonder geneul oor kos en wasgoed by die hoofhuis op die plaas waar hulle woon en werk, om ’n tafel sit en nuwe dinge ervaar. Anina le Roux van ’n buurplaas, Rooiheuwel, het vir die vroue gedemonstreer hoe om juweliersware met krale te maak. Daarna was tossels as tooisels aan die beurt. Lisette Malan van Olifantskop self het vir die vroue geleer om laslappiewerk te doen, waarna hulle kussingoortreksels en tot ’n groot beddeken gemaak het. Daar was al kosdemonstrasies om die gesin te bederf, blommerangskikkings met blomme uit die tuin sodat elkeen self ’n kisruiker kan maak wanneer dit nodig is. Hierdie week het Susan Laubscher die vroue geleer om rokhangers oor te trek. Die klub is nou al 20 maande aan die gang en vir die vroue bly die byeenkomste die hoogtepunt van die maand. Die volgende projek is ’n deurstop: ’n klip oorgetrek en versier - dalk in die vorm van ’n skilpad, ’n slang of ’n blom. Die vroue is nou so entoesiasties dat hulle ook al by die Breytenbach-sentrum op die dorp ingeskakel het waar Saterdae handvaardighede aangebied word. Tydens een so ’n uitstapppie het hulle by die sentrum met mosaïekwerk ’n teël gemaak wat nou as potstaander in hul wonings dien. “Ons leer baie, en so kom ons bietjie weg van die huis,” meen een van die vroue. “’n Mens ontspan weg van die mans en die kinders en die gewoel,” beaam ’n ander. “En dis lekker om mooi goed te maak. Dan het jy geskenke wat jy kan weggee. Ek het my earrings vir my ma gegee."
More
News
|