Dis baie duur, maar ai, tog so lekker
2008-08-28
’n BOSVARK wat jou R14 000 kos, moet darem baie spesiaal wees. En spesiaal wás dié meneer, waaraan 24 mense Saterdag gesmul het, met nog ’n groot klomp vleis oor vir Sondag. Dié meevaller het op ‘n Dinsdagoggend halfsewe so ongevraagd oor die plaaspad aan die hange van Groenberg voor ’n bakkie met plaaswerkers ingedraf. Daar was nie kans vir uitswaai nie en die dier het met ’n kophou bly lê. Met die prys van vleis in gedagte en die stories van die lekker smaak van bosvark-vleis, het die man die 160kg beer tussen die werkers gelaai. Terug op die plaas in die Bovlei het die werkers afgeklim, en tot hul verbasing gesien hoe die dooie vark begin opstaan. Sy beserings was egter van so ’n aard dat hy met ’n skoot van ’n jaggeweer uit sy ellende verlos moes word. Bosvarke is nie soos plaasvarke wat skoongekrap word nie. Hulle word velafgeslag soos ’n bok. En so het die komende maaltyd toe tien dae sonder binnegoed en sonder kop in die koelkamer gehang. Die Saterdag is ’n groot vuur gemaak en terwyl die vriende om die vuur kuier, het Asterix se wildevark oor ’n spit gedraai. Dit was nou nadat daar 30kg van die vark afgesny is sodat die meneer op die spit kon pas. Sonder die harde, dik hare, die pote en die grillerige kop met die lang snoet en die slagtande, het die vark met braaiende boude glo die eters laat kwyl. Die kuiergaste het gemeen dit ruik soos hoender toe dit begin braai, en toe later lyk die vleis toe rooi soos dié van ’n bees. Die gasvrou het intussen ’n groot pot groentesop voorberei, vir die wis en die onwis van die meevaller. Dit was eintlik nie nodig nie, want heelwat later (in die tussentyd is gesorg dat die Wellington rooiwyn-oorskot gesak het), het die meneer op die kole glo “sommer net lekker” gesmaak. Die bosvarke wat in hul dosyne op Groenberg rondsnuffel, lyk nie een soos die ander nie. Party slaan terug na hul mak oupagrootjies en ander na hul wilde oupagrootjies, wat toentertyd uit Europa ingevoer is en toe hul visitekaartjie by varke op plase aan die bergrand gelos het. •A wild boar that was run over on a farm road on the slopes of Groenberg outside Wellington fed 24 hungry guests (with pork to spare).
More
News
|