Hart se seer verby
2008-08-28
Lise Beyers
’n JONG hart van Wellington klop nou met nuwe lewenslus, ná ’n hart-ablasieprosedure. Hierdie hart behoort aan die elf maande-oue knaap, Henré Schoeman, wie se lewe waarskynlik gered is deur hierdie prosedure. Hy is ook waarskynlik die jongste pasiënt in Afrika wat al ’n hart-ablasie ondergaan het. Kort na Henré se geboorte is daar agtergekom dat hy vreemde steungeluide maak. Die dokters het eers gedink dat die pasgebore baba water op die longe het, maar by nadere ondersoek is daar vasgestel dat hy met ’n genetiese sindroom gebore is, naamlik, WolfParkinson-White-sindroom. Hierdie sindroom is veroorsaak deur ’n ekstra konneksie in die hart wat elektriese seine uitstuur wat die normale hartritme versteur. Henré se hart het teen 300 slae per minuut geklop, meer as twee keer wat sy normale hartklop behoort te wees. Dit het dus druk op sy hele liggaam geplaas, veral sy longe. Nadat hy met die sindroom gediagnoseer is, het die dokters vir sy ouers, Suné en Danie, moed ingepraat en gesê dat met die gebruik van medikasie, kan Henré moontlik die sindroom ontgroei. Suné vertel dat alles goedgegaan het totdat Henré so twee en ’n half maande oud was. “Maar toe ons een naweek see toe gegaan het, het Henré soos ’n lappop in sy babasitplek gelê. “Ons het erg geskrik en is dadelik hospitaal toe met hom. Hy is gestabiliseer en sy medikasie is verhoog.” Vir die volgende sewe maande was dit ’n opdraande stryd met medikasie wat verhoog is en beproef is. Henré se toestand het nie verbeter nie. Die laaste uitweg was om nou hart-ablasie op die jongeling uit te voer. Tydens so ’n ablasie word ’n klein kateter in ’n aar in elke lies geplaas en na die hart gelei. Die doel is dat die een kateter die deel van die hart waar die kortsluiting is, identifiseer, waarna die ander een dan met radiofrekwensie-energie, die kortsluiting vernietig. “Ons is vertel dat hulle eers hierdie prosedure uitvoer wanneer die pasiënt 15kg weeg, en Henré het maar 12kg geweeg. “Daar is aan ons verduidelik dat daar ’n verskriklike risiko is om op so ‘n jong ouderdom die hart-ablasie uit te voer, maar ons het nie meer ’n uitweg gehad nie. “Gelukkig was Henré reeds ‘n stewige knaap met sy geboorte en op tien maande het hy ’n bietjie meer geweeg as babas van sy eie ouderdom.” Ná die prosedure van vier uur, waartydens die Schoemans naels gekou het, is Henré uit die operasiesaal gestoot en die groen lig gegee. “Ons kon dit nie glo nie. Die volgende oggend was Henré op en wakker en sy ou self. Die enigste teken van die groot beproewing waardeur hy is, is drie snytjies aan sy lieste.” En van die oog af sal ‘n mens nie kan glo dat hierdie aktiewe klein mannetjie ‘’n lewensbedreigende siekte gehad het nie. Henré kan nie vir ’n oomblik ophou beweeg nie, en dit is asof hy nou opmaak vir die tyd wat sy hart vir hom lam gelê het. En nou sien hy uit na sy eerste verjaarsdag op 28 September, wanneer hy ’n seerowerpartytjie gaan geniet, en uitsien na ’n normale lewe vir die baie jare wat nog gaan kom.
More
News
|