Ons ster skyn by die Olimpiese Spele
2008-08-28
Malané Bosman
DAAR was drie dinge waarna John Bailey van Wellington uitgesien het toe hy hoor hy kwalifiseer om te reis na die Olimpiese Spele in Beijing. Twee wense is vervul, maar die laaste een sukkel maar. “ Ek wou die 100m finaal vir mans sien – wow, Usain Bolt! Ek wou ons vlag sien in die Bird’s Nest en ek wou ons landslied in Beijing hoor wanneer een van atlete goud wen. “Die eerste twee wense het ek gekry, maar ai, die laaste een!” John (37) is Wellington se ster in die Olimpiese stad. Hy is die SABC se burohoof in Beijing en bly reeds vyf maande in China. John praat in byvoeglike naamwoorde oor sy voorreg. “Ek gaan nog ’n hele paar jaar verslag doen vanuit hierdie opwindende deel van die wêreld. “Ek sit nou op een van die Olimpiese Spele se baie betroubare mediabusse terwyl ek op pad is na die baie indrukwekkende Birds Nest om atletiek-uitdunne te gaan kyk. Ons het ‘n wonderlike blou-lug-dag beleef, nadat dit gister honde en katte gereën het.” John is die oudste seun van oud-burge- meester Herman Bailey. Sy ma, Carol, is onderwyseres by St Albans Primêr. Op skool aan Weltevrede Sekondêr in Wellington, was John omtrent aktief, het naellope gedoen en het provinsiale kleure in tafeltennis en tennis verwerf. Nie dat sy sportprestasies hom vir Beijing laat kwalifiseer het nie. ’n Paar jaar terug het hy sport aangebied op televisie. Daarom is hy gevra om die SABC- verslaggewing tydens die Spele te lei. Gebaseer in China, konsentreer hy op sosio-ekonomiese en politieke stories. Tydens die Sichuan aardbeweging in Mei het hy verslaggewing gedoen oor die tragedie. Hy is die eerste en enigste uitsaaikorrespondent daar uit Afrika. Onlangs het hy ’n persoonlike onderhoud gedoen met die Chinese president, Hu Jintao, waarop hy baie trots is. Dit is ’n geleentheid wat nog nie eens die groot mediamaatskappye soos die BBC en CNN te beurt geval het nie. John het ’n meestersgraad in joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Daar het hy ’n liefde vir lang afstande ontwikkel en hy het ’n paar Safari-halfmarathons onder sy belt, asook drie Two Oceans. “Dis nou ’n bietjie moeilik om hier te hardloop, met al die voertuie, hitte en sommige dae besoedeling, so ek en my vrou gaan gereeld na die gimnasium. John is met ’n joernalis, Natasha Pamplin-Bailey van Walvisbaai, getroud. Hy het in 1995 begin as joernalis by die SAUK. Eers in radio, toe na televisie en later aktuele programme. En nou is hulle in Beijing. Elke keer as hy hoor van mense wat daardie kant toe gaan, vra hy vir biltong, droë wors en wors. Sy vrou soek gewoonlik speserye. “’n Vriend van Pretoria het hoeka saam met een van sy kollegas wat die Spele kom dek, heelwat speserye en Bar One sjokolades gestuur. Omdat ek ’n soet tand het, was daardie Bar Ones omtrent verslind. “By SA ambassadefunksies eet ons lekker Suid-Afrikaanse kosse. En hier is ’n Suid-Afrikaner wat wors maak. Dit is nou wel R85 ’n kilogram, maar dit is alles die moeite werd.” John meen die kos in Beijing is wonderlik. “Omdat Beijing ’n internasionale stad is, is daar ’n groot verskeidenheid. Boonop is my vrou ’n uitstekende kok. Sy het ook al plekkies ontdek met kwaliteitbestanddele teen billike pryse. “Daar’s niks so lekker as om ná ’n 18 uur werksdag huis toe te kom en kos te eet wat “bekend” is nie. Maar ons eet allerhande kosse hier, baie Oosterse kosse, Arabies, Indies, Pasifies. “Ek hou baie van spicy kosse, alhoewel dit nie altyd ’n goeie ding is vir my sensitiewe maag nie!” John was onlangs in Korea. “Dis hier waar hulle hondevleis eet en nie in China soos baie mense dink nie. By al die restaurante daar het hulle hondevleis op die menu. Ek het dit maar ’n mis gegee! Ek het wel al slang geëet.” Die Baileys woon in die Jianguomenwai diplomatiese kompleks wat goed ingerig is vir buitelanders, met groot bome, ’n speelpark vir kinders en ’n diplomatieke winkel propvol produkte van regoor die wêreld. Daar is selfs wyne uit Suid-Afrika, waaroor John baie bly is. “As gevolg van die ses ure tydsverskil werk ons baie lang ure hier. So, wanneer my kollegas teen nege uur die oggend instap, is ek al warm gewerk,” sê John. In sy vol dag druk hy ook nog twee ure van Chinese klasse in. As hy nie werk nie, gaan verken hulle gewoonlik die stad, of ontmoet vriende, gaan eet uit of gaan stap veral saans wanneer dit koel is, in ’n park. Die Baileys is al goed ge-akklimatiseer. Die hitte is nie veel van ’n probleem nie, maar wel die humiditeit wat soms tot 98% styg. Die ander groot uitdaging gaan die winter wees, weet John, want Beijing se temperatuur daal tot -15 grade C. Terwyl die besoedeling soms “nogal rof” is, is die winterlug potblou. “Ek is verheug om dekking te gee aan die Olimpiese Spele. Dit is so opwindend om hier die wees,” sê John. “Ook die Spele gaan oor meer as net sport. Jy ontmoet verskillende mense van regoor die wêreld en jy leer om ander kulture beter te verstaan. “Veral met dié Spele wat soveel wêreldpublisiteit gekry het, is dit enige joernalis te droom om van hieraf verslag te doen.” En dan sak die gordyn op die onderhoud met ’n tipiese Bailey-van-die-SAUK afsluiting: “Groete uit opwindende Beijing.”
More
News
|