Tsjaka en Winston werk saam
2008-08-28
Malané Bosman
DIT was ’n lang pad, maar dit was die moeite werd. Vandag is Simthempile Noqayi en Alicia Daniels trotse geleiers van springstofhonde. “Ek het by die polisie aangesluit met een doel voor oë, om met ’n hond te werk,” sê konstabel Noqayi. Sy woning in Mbekweni is nie omhein nie, en hy kan nie daar ’n hond aanhou nie. Sersant Daniels “is ook gek oor honde”. Sy het vyf honde by haar huis in Wellington. Noqayi het vier jaar in die aanklagkantoor in Mbekweni gewerk en Daniels was eers by die Wellington polisiestasie in diens. Die opgewondenheid was groot toe hulle gekeur is om na Pretoria te reis waar aan hulle elk ’n jong hond toegeken is. Vier maande lank het hulle saam met hulle honde by Pretoria opleiding ontvang. Daarna kon hulle byna ’n jaar lank met hul honde by die Paarlse honde-eenheid help in ernstige sake waar honde ingespan kan word, soos met die aankeer van huisbrekers, moordenaars en verkragters. Vroeër vanjaar is Winston en Tsjaka en hul geleiers weer vir vier maande na Pretoria vir spesialis-opleiding in die opsporing van springstof. Vandag werk Noqayi en sy bokserhond, Winston, en Daniels met haar Duitste herdershond, Tsjaka, soos ’n goedgeoliede masjien saam. Skiet ’n skoot in die lug en die honde pak die man met die vuurwapen. Hulle het nie ’n bang haar op die lyf nie. Die ore bly gespits vir elke bevel van hul hanteerders en sodra die verdagte vasgepen is, sal hulle los en gaan sit, reg vir die volgende instruksie. Hulle is dringend nodig by die honde-een- heid, want daar is nou net 17 honde en geleiers wat 16 polisiestasies in die Boland bedien, van die Paarl tot in Franschhoek, Stellenbosch, Malmesbury en Porterville. Die afgelope tyd het soveel van die meer ervare honde-geleiers die polisiediens vaarwel toegeroep dat daar in 18 maande se tyd 100 jaar se ervaring in die Paarl verlore is. Supt Jan Louw, bevelvoerder van die honde-eenheid in die Paarl, hoop dat Wes-Kaap polisiekommissaris Mzwandile Petros sy belofte gestand sal doen dat 2008 die Jaar van die Hond is, en dat die polisie se honde-een- hede vanjaar die nodige aandag sal geniet. Die nuwe springstofhonde is nou maar vier jaar oud, en polisiehonde het ’n werks- lewe van tussen agt en tien jaar. Maar met die sersant en die konstabel wat soveel jare gewag het om met honde te werk, is hulle aftrede alreeds verseker. “Teen daardie tyd is my plek al omhein, en dan koop ek vir Winston van die staat,” meen konst Noqayi, terwyl sers Daniels sê: Tsjaka sal altyd by my ’n plekkie hê.” * Two new police handlers and their dogs, trained not only in general police work, but also in the detection of explosives, are a welcome addition to the dwindling number of police dogs in Paarl.
More
News
|