Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Egpaar wen groot toekenning

Egpaar wen groot toekenning
 
2008-09-04

Christine Siebrits

“NEE WAT, julle gaan dit nie maak nie, julle is gans te jonk en onervare,” was die woorde van ’n skeptiese beheerraadslid kort nadat Dolf en Maderi Etsebeth 25 jaar gelede by Huis Andrew Murray ingeval het.

Die beheerraadslid moes egter weldra sy woorde sluk, want vir ’n meer toegewyde “pa” en “ma” vir Huis Andrew Murray se kinders kon niemand vra nie.

Geen wonder hulle is verlede week deur Wellington Rapportryerskorps aangewys as Wellingtonners van die Jaar nie.

Hiervan kan sowat 3 800 kinders vir wie hulle oor die jare heen saam met hul knap personeelkorps help versorg het, getuig.

Talle van hierdie kinders het oor die jare heen op talle terreine uitgestyg en ten spyte van hul moeilike kinderjare. Sommige dien vandag in die polisiediens, terwyl heelwat met universiteitsgrade kan spog.

Dolf en Maderi se uitgangspunt was dat dit nie die kinders se skuld is dat hulle in die kinderhuis opgeneem word nie, maar eerder weens die maatskaplike probleme in hul ouerhuis.

Onder hierdie egpaar se leiding het Huis Andrew Murray die eerste kinderhuis geword wat afsonderlike huiseenhede as versorgingstruktuur ingestel het, wat ’n suksesverhaal op sy eie geword het. Huis Andrew Murray was hul trots. Daarom was hulle altyd sulke goeie ambassadeurs en bemarkers daarvoor.

Vir die afgelope 25 jaar het die Kinderhuis nooit gebuk gegaan onder finansiële tekorte nie, grootliks danksy Dolf se besonderse vermoë tot fondswerwing en die maklike manier waarop hy die dorp se sakemanne se arms vir ’n rol draad hier en ’n blik verf daar kon draai.

Min kon dit regkry om maklik vir hom nee te sê.

Deur Dolf se puik administrasie en die hulp van Badisa het die fasiliteite wat by Huis Andrew Murray beskikbaar is, oor die jare heen uitgebrei tot ’n bate van R20 miljoen. Hy het sy subkomitees hard laat werk, en het daarby self hard gewerk om dít wat hy gedoen wou kry, aan die gang te sit.

Na 25 jaar se 24 uur per dag en sewe dae per week toewyding, het Dolf vanjaar as gewaardeerde kinderhuishoof afgetree.

Maderi, sy raakvatter-regterhand en steun- pilaar, bly egter eers aan as hoof van kinderversorging.

Sy is die spreekwoordelike ‘agter elke man staan ’n besonderse vrou’, want deur haar toewyding as eggenoot en moeder het sy Dolf se hand in alles gesterk.

In haar rol as hoof van kinderversorging speel Maderi ’n onmisbare logistieke rol in die dag-tot-dag bestuur van Huis Andrew Murray.

Onder haar bekwame leiding sien sy toe dat 200 mense se klere vyf dae per week gewas, gestryk en netjies opgevou word en dat 200 mae drie maaltye per dag geniet.

Siektes en skete geniet haar aandag en daarby sorg sy vir die algemene netheid en versorging van elke kind in die kinderhuis. Daarby het sy nog die energie om aan halfmarathons deel te neem.

Hierdie egpaar het ook in die breë gemeenskap diep spore gestap waar hulle op talle terreine betrokke was en nog steeds is.


More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za