Voëlkykers woeker by reservaat
2008-09-18
Sieb Sieberhagen
TERWYL entoesiastiese voëlkykers elke maand by Paarl se voëlreservaat byeenkom om voëls te tel en te ring, bly dié reservaat een van die besbewaarde geheime in die Drakenstein- gebied. Daar is al meer as 130 verskillende spesies voëls hier aangeteken. Intussen woeker die voëlkykers ook om die gebied meer aantreklik te maak en ’n beter voëlhabitat te skep. Die deurlopende aktiwiteite by die reservaat sluit voëltellings, voëls wat gering word, onkruidbestryding en die aanplant van bome en struike in. Drie maande gelede is daar ook ’n uitkykplatform op ’n bestaande gebou opgerig. Abraham Retief, ’n afgetrede boer, het reeds amper 100 inheemse bome en ’n aantal groot struike aangeplant. Die bome sluit koorsbome en die nuwe inheemse wilgeboom in. “Die doel daarmee is om meer voëls te lok deur aan hulle skuiling, nesbouplek en kos te voorsien. Die struike verskaf nektar en bessies aan die voëls,” sê hy. Dié reservaat, met vyf damme en ’n totale wateroppervlakte van 36 hektaar, lok jaarliks ongeveer 5000 besoekers. In die Wes-Kaap word dit as een van die sewe beste voëlkykplekke beskou. Die reservaat is geleë aan die noordekant van Paarlse rioolwerke . Die toegang is gratis. Besoekers kan die voëls uit hulle motors besigtig deur van die paaie gebruik te maak. Die twee voëlskuilings is ideaal geleë vir besigtiging en vir die neem van foto’s. Die reservaat het ook ’n piekniekterrein en heelparty tafeltjies en bankies waar besoekers kan ontspan. Vir navrae oor die reservaat in Drommedarisstraat, Paarl, en oor hoe om by die voëltellery betrokke te raak, kan belangstellendes met Yvonne Weiss by 021-872-4972 skakel.
More
News
|