Wellington gee erkenning aan musikant
2008-09-25
Christine Siebrits
HEG ons genoeg waarde aan ons kultuurhistoriese erfenisse om vir die bewaring en bevordering daarvan te veg? Vanuit Wellington is daar vele onskatbare erfenisse – ook van Afrikaanse liedere. Gister, op Erfenisdag, was Ouma Granny’s Huismuseum in Fonteinstraat Wellington oop vir belangstellendes om te kan luister na die bekende Imker Hoogenhout se musiek op band. En môre van halfnege tot twaalfuur maak hulle weer so. In Maart 1908, skryf kolonel Imker Hoogenhout die pragtige lirieke van Kom ons gaan Blomme Pluk, Die Brug op ons Plaas en Grietjie. In ’n artikel in De Goedehoop pleit hy vir eie musiek en eie liedere. Imker, seun van Kol. PI Hoogenhout en kleinseun van CP Hoogenhout, het inspirasie geskep uit ervaring van nooiens, Bolandse wyn en plaaslewe. Hy het reeds as 16-jarige begin sing met eie kitaarbegeleiding. In 1929 was daar reeds radio-uitsendings vanaf die ou ateljee in Johannesburg en daar was hy een van die eerstes wat die elektriese Hawaiise kitaar oor die radio gespeel het. Op hierdie stadium was hy deel van ’n drietal wat sommer die “Three Males and Three Guitars” genoem is. Vanaf 1946 was daar gereelde uitsendings – “Jolyt op Jakkalsfontein” saam met die grapmaker Gerrit van der Merwe. In dié jaar komponeer Imker ook die bekende Seuntjie in die Kombuis waarvoor hy baie lof gekry het vir sy uitmuntende eie kitaarbegeleiding. In Augustus 1946 wen sy Wellington Drietal met, Imker, Francois Malan en Hennie Crouse die Boereorkes-kompetisie. In die destydse “Radioweek” verskyn daar dan ook ’n brief van JWM van Schalkwyk van Sunnyside in Pretoria: “Laat my toe om langs dié weg Gerrit van der Merwe en Imker Hoogenhout se Drietal van harte geluk te sê met hul program “Jolyt op Jakkalsfontein” – ek wil selfs verder gaan om te sê dis die beste programreeks tans in die land.” Vanaf 1947 sluit Pieter de Waal weer by die groep aan en die program “Bloekombossie” volg. Dit is insiggewend dat al die programme en konserte destyds ten behoewe van behoeftiges was. Op 10 September 1948 op ’n sopnat dag volg ’n geskiedkundige eerste lewendige koffiehuisprogram vanaf die Wellington Stadsaal met Pieter de Waal en Imker Hoogenhout se orkes, aangebied onder beskerming van die destydse Hugenote Universiteitskollege te Wellington. ’n Persberig lui, “Daar was ’n geweldige gedrang op Wellington. Met die uitsondering van die HNP se oorwinningsfees na die verkiesing was hier stellig nog nooit meer mense in en om die plaaslike stadsaal ingedruk nie as op Vrydag 10 September, se Vrolikheid in die Koffiehuis.” In Mei 1949 is Imker gevra om deel te wees van die SAUK program vir die BBC se “Meet the Commonwealth”, waar hy oor sy musiek gepraat het. Vele Koffiehuis-programme is daarna uitgesaai en op 18 Februarie 1950 is ’n geskiedkundige uitsending direk van die familieplaas Optenhorst in die Bovlei, Wellington uitgesaai. Dit was so ’n groot sukses dat ’n hele aantal programme daarna vanaf die plaas uitgesaai is. In April 1950 het die groep opnames gemaak vir die destydse C-program (Springbok Radio) vir kommersiële uitsendings deur Sanlam. In briewe van lesers sowel as koerantberigte word hierdie orkes as volg beskryf: “die juweel van Imker Hoogenhout se orkes, een van die beste Boere-orkeste wat die land nog opgelewer het. “Die verdienstelikheid van die orkes lê daarin dat hulle Boeremusiek speel soos dit gespeel behoort te word; dat hulle ou tradisionele nommers laat herleef en veral dat hulle alreeds verskeie oorspronklike nommers vir die eerste keer tydens die Sanlamkonserte oor die lug gestuur het, soos Bolandse Vaaljapie.” Imker Hoogenhout was vir meer as 20 jaar in die musiekbedryf. Met sy dood in 1974 skryf Pierre Louw in Die Transvaler, “hierdie talentvolle kêrel het ruim bygedra nie net tot ons radio nie, maar tot die skat van vrolike Afrikaanse musiek”. Wie sal dan sy liedjies Baas is in die Strand, Klein Seuntjie, Bolandse Nooientjie en vele ander kan vergeet? Vir navrae, skakel 083- 2317027of 021-873-3093.
More
News
|