Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Lente se veldkos blom

Lente se veldkos blom
 
2008-09-25

Marguerite Lombard

WATERBLOMMETJIES is eie aan die Boland, en ’n veldkos wat vir eeue lank hier geëet word.

Deesdae word dit al hoe meer gewild, vertel waterblommetjieprodusent Attie Krynauw van Van der Merwe Plase net buite Wellington. Dit is ook nie meer so ongewoon om dié dis op ’n restaurant se spyskaart te sien nie.

Attie vertel dat hy al van kleintyd waterblommetjies eet, en sy ma het juis op hierdie plaas - Oude Pont - kom koop.

Sy ouma op Hopefield maak ook nog ’n sop van die waterblommetjies se stingels.

“Nee wat, ’n mens kan nie moeg raak vir hierdie groente nie,” sê hy.

Die waterblommetjie se seisoen begin gewoonlik in Mei en eindig teen die einde van Oktober, met die piekseisoen tussen Junie en September.

Van der Merwe Plase is van die grootste waterblommetjiekwekers in die Boland, en het nege damme op die plaas.

“Ons is by verre nie die grootste nie. Oorkant die berg boer hulle ook met waterblommetjies, en buite Villiersdorp is daar ’n baie groot plaas wat hoofsaaklik vir die inmaakmark kweek. Hulle het meer as 40 damme vol waterblommetjies geplant.”

Die hoeveelheid waterblommetjies wat hulle elke seisoen pluk, wissel baie volgens die weerpatrone. As die winter te koud was, is daar minder blomme, maar in die warmer weer blom hierdie inheemse waterlelies beter.

Dit is ook nie net vir pluk nie, die blom moet vol kos wees, verduidelik Attie.

“Dit beteken dat die blom amper moet begin saad stoot, dan is dit reg vir pluk.”

Waterblommetjie-damme is plat en vlak, en word in die droë laatsomermaande voorberei. Die leë damme word dan omgeploeg, bolle uitgedun en bemesting word ingewerk. Eers dan word die damme weer toegelaat om vol te loop.

Nadat die blomme geoes is, word dit gewas, en verpak in eenkilogram-sakkies. Op straat kan ’n “kooksel” waterblommetjies tussen R15 en R20 kos.

“Die meeste van ons waterblommetjies word plaaslik by padstalle en supermarkte verkoop. Dan lewer ons ook in Stellenbosch af, en ons het ’n kliënt wat waterblommetjies in Kaapstad se suidelike voorstede verkoop.”

In die begin van die seisoen is die raklewe van die waterblommetjies langer, want hulle is nie lief vir die son nie.

In ’n koelkas sal dit maklik ’n week hou. Dan kan ’n mens dit ook blansjeer en vries, maar die delikate blommetjies is geneig om pap te wees as dit gevries was.

Attie vertel dat die waterblommetjies nie eintlik vyande het nie, maar dat geelbek- eendjies baie lief is om aan die blomme te vreet.

“Soggens en in die laatmiddag sien mense hulle nogal. Hulle vreet dan die blommetjies af, maar vanjaar is hulle nie te veel van ’n probleem nie.”

Op hulle damme is daar altyd vier of vyf mense wat pluk in die meter-diep damme. Soms is dit koue werk, want dan soek ’n kliënt die waterblommetjies dringend, al beteken dit dat iemand dit in die reën moet gaan pluk.

In die bundel “Polfyntjies vir die proe” verduidelik die veldkoskenner C Louis Leipoldt dat ’n goeie waterblommetjiebredie begin met ’n smoorsel vet skaapribbetjie en ’n snippie roosmaryn.

Die waterblommetjies word apart in soutwater opgekook, die water afgegooi en dan saam met ’n bietjie vet by die gesmoorde vleis gegooi. Heel laaste word ’n handvol suring, sout, gemmer en groenrissie en witpeper bygesit.

Attie stem saam, vir hom is die waterblommetjies op sy beste met ’n vetterige stuk skaapvleis en ’n bietjie suurlemoen of, soos die oumense altyd gemaak het, ’n handvol surings.

Jesmien Johannes is een van die waterblommetjie-plukkers by Oude Pont, en vertel dat haar ma weer nie altyd die vleis bysit nie.

“Ons breek eers al die harde blare af en laat dit oornag in soutwater lê.

“Dan vat my ma ’n ui, bietjie groenrissie en knoffel en smoor dit. Die waterblommetjies word apart opgekook totdat hulle sag is, en dan saam met ’n aartappel by die ui-smoortjie gegooi.”

Haar werksmaat René Williams stem saam, maar glo dat ’n bietjie skaapvleis, wit wyn en olyfolie die waterblommetjies koningskos maak.

Dan eet ’n mens dit net so met ’n bietjie rys of saam met ’n sny brood.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za