Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Stokkiesbedryf was haar lewe

Stokkiesbedryf was haar lewe
 
2008-09-25

Marguerite Lombard

IN die wêreld van Suid-Afrikaanse wyn en wingerdbou is Wellington die hoofstad van die bedryf, want hier word omtrent al die wingerdstokke gekweek.

Vir bykans 30 jaar was “tant” SCB Smit die bekende stem van Constantia Kwekery. Drie jaar terug het sy besluit om af te tree.

SCB vertel dat haar nooiensvan Redelinghuys was, en dat sy op die plaas St Peter’s Roche in Noorder-Paarl grootgeword het.

Haar man, Abraham (“Awie”) Smit, het weer op ’n plaas in Paardeberg grootgeword.

“Ek onthou ons was pas verloof, toe sê Awie hy wil boer, en begin toe ’n plaas in die Wellington-omgewing soek. Dit is hoe ons toe op Welvanpas afgekom het.”

Welvanpas was een van die eerste plase wat in 1699 aan Hugenote vlugtelinge uitgegee is, en lê aan die Spruitrivier in Wellington se Blouvlei of “perdeskoen” soos almal daarna verwys.

Awie en SCB het eers die plaas van André le Roux gehuur, wat toe al 80 jaar in die Le Roux familie was.

Na Le Roux se dood wou sy weduwee die plaas verkoop en so het hulle Welvanpas in 1956 gekoop nadat hul huurkontrak verval het.

“Ek onthou mnr Le Roux nog baie goed. Hy was ’n regte gentleman soos die oumense altyd gesê het. Mense het altyd na hom as die “Prince of Wales of Wellington” verwys,” vertel tant SCB.

Dit was ook hy wat voorgestel het dat hulle die naam Constantia gebruik vir hulle kwekery.

Daardie jare het Welvanpas appelkose, koejawels en wingerd op gehad, asook krisante as snyblomme.

“Mnr Le Roux het sy krisante tussen die wingerdrye geplant, en ons het besluit om aan te hou met die blomme.

“Knoppe is hier en daar uitgebreek om groter blomme te produseer. Ek onthou, dit was baie harde werk.

“In die oggend het die werkers die blomme gaan sny en op daardie groot laaie gepak waarop appelkose altyd gedroog is.

“Die laaie is dan uit die wingerd gedra stoor toe sodat dit gesorteer kon word, en in bossies bymekaargemaak kon word.

“Awie het altyd so ses of tien mense gehad om met die blomme te werk. Dan moet hulle Sondae ook werk om blomme vir Maandag te hê.”

Later het die Smits besluit om weg te doen met die krisante en eerder op die stokkiesbedryf te konsentreer.

“Toe ons met die stokkies begin het, was die bedryf heelwat kleiner. Daar was Manie Smit, Tienie Malan, Petrus Bosman, Sarel van der Merwe, Rossouw Pietersen en Boet Malan, en nog ’n paar ander. Ons was sekerlik nie meer as tien kwekers nie.”

Die kwekers het ook nie met uiteenlopende variëteite en klone gewerk nie: nie veel meer as Hanepoot, Fransdruiwe, Hermitage, Steen en Groendruiwe nie.

“Elke seisoen het die kwekers ’n span gemaak om in die oestyd deur die wingerde te stap om seker te maak dat die entmateriaal wat hulle later daar sou oes, van ’n goeie gehalte sou wees.

“In die beginjare was ons stokkiekwekery nog klein, en ons kinders was ook nog baie jonk. Dit was eers toe ons seun Jacques plaas toe gekom het, dat ons die besigheid begin uitbrei het.”

Tant SCB het nie net in die kantoor bestellings geneem nie, maar het ook begin om veilings by te woon, veral toe haar man Awie se gesondheid nie meer so goed was nie.

“Die stokkiesbedryf is soos ’n hegte familie, en vir nuwelinge is dit nie altyd maklik om in te kom nie. Veral daardie jare was daar ’n baie lojale verhouding tussen die kweker en die wingerdboer, en onder die kwekers.

“Vandag gaan dit meer oor prys en mense moet hard werk om kliënte te behou. Die bedryf is soos ’n groot koek, en almal soek sy sny!”

Jare gelede het kwekers die grootste deel van hulle stokkiesoes op veilings in die Paarl, Wellington en op Worcester verkoop.

“Ons kwekers het altyd ’n paar kliënte op ons boeke gehad, die res van jou stokkies moes jy op die veiling gaan verkoop. Daar het jy ’n nommer gekry en ’n staanplek. Dan het die boere begin bie.

Veilings het mettertyd verdwyn omdat die kwekers nie meer die verlies van oorproduksie kon dra nie.

“Dit wat jy nie op die veiling kon verkoop nie, moes jy maar in die beeskraal gooi. Dit was jou profyt wat jy so weggegooi het, want intussen het jou entmateriaal ook duurder geword. Die meeste kwekers het toe begin om op bestelling te ent.”

Vandag is tant SCB afgetree, maar sy is nie iemand wat maklik stil sit nie, en is nog betrokke by die wel en wee van die plaas en sy plaasmense.

“Ek is baie lief vir mense, en mens mis tog al die kontak met die boere, en veral die kliënte wat al baie jare saam met jou gekom het. Daar is sulke wonderlike karakters en dierbare mense in die bedryf.”


More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za