Rektor sterf skielik
2005-07-21
DIE personeel en studente van die Hugenote Kollege op Wellington was vandeesweek geskok nadat die rektor, prof Attie van Wijk (57), onverwags dood is Maandagaand.
Prof Van Wijk het vermoedelik aan ’n hartaanval gesterf tydens ’n muurbalwedstryd teen ’n kollega, Koleskie Herselman, administrateur by die Kollege.
Herselman, wat erg aan skok ly, het blykbaar vir prof Van Wijk genooi vir ’n muurbalwedstryd nadat sy gereelde speelmaat hul afspraak gekanselleer het.
Prof Van Wijk, wat twee jaar gelede ’n hartomleiding gehad het, was baie aktief en lief vir die buitelug. Hy het gereeld bergfiets gery.
Toe hy Maandagaand inmekaarsak, was daar dadelik hulp byderhand.
Een van die spelers op die naburige baan met ’n grondige kennis van noodhulp het die nodige gedoen.
Prof Van Wijk was egter reeds dood toe die ambulans daar opgedaag het en het vermoedelik onmiddellik gesterf weens ’n massiewe hartaanval.
Prof Van Wijk was ’n besonder dinamiese rektor en geliefde kollega wat die Kollege gedurende sy ampstermyn tot nuwe hoogtes gelei het.
Prof Van Wijk het in 1964 aan die Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch gematrikuleer, waar sy pa predikant was.
Hy het daarna aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer in teologie en het ook ’n meestersgraad in Kliniese Sielkunde behaal.
Hy het ook ’n ruk lank klas in Sielkunde gegee aan Maties. Prof Van Wijk is daarna na die Universiteit van Princeton in die VSA waar hy ’n meestersgraad in Pastorale Teologie verwerf het. In dieselfde jaar het hy ook ’n Lisensiaat in Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf.
In 1992 het hy ook ’n doktorsgraad in Sielkunde behaal aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat.
Prof Van Wijk het sy loopbaan in 1980 as predikant van die NG Gemeente Grahamstad begin.
Hy het in 1982 by die Hugenote Kollege aangesluit as hoof van die departement Sielkunde en is in 1995 aangestel as viserektor van die Kollege.
In 2000 het hy prof Jaap Furstenberg as rektor van die Kollege opgevolg.
Hy was ook baie betrokke by die gemeenskap van Drakenstein, die geloofsgemeenskappe op Wellington en die Swartland en veral die NG Gemeente Wellington.
Hy word oorleef deur sy eggenote, Corneel, en drie kinders, Adriaan, Andrew en Susan.
’n Roudiens word Saterdag om 11:00 in die NG Gemeente Wellington gehou.
* The rector of the Huguenot College in Wellington died of a heart attack while playing squash.
More
News
|