Geletterheidsprojek vir plaaswerkers
2008-10-09
DIE Breytenbach-sentrum bied, ter ondersteuning van die LW Hiemstra Trust, ’n kursus aan in volwasse geletterdheid. Die aanbieders, Ria Olivier en Johanna Swartz, sal op Dinsdag 14 Oktober om 10:00 ’n praktiese demonstrasie oor bemagtigingsgeletterdheid op Doolhoof-wynlanddgoed buite Wellington aanbied. Die geletterdheidsklasse is spesifiek gemik op plaaswerkers van die Wellington en Paarl-omgewing en die Breytenbach Sentrum nooi graag alle belangstellendes uit na hierdie sessie. Volwasse geletterdheid word dikwels eng beskou as die vermoë om te kan lees en skryf en kosbare kontaktyd word gebruik om volwasse leerders slegs hierdie basiese skoolvaardighede aan te leer. Boonop word volwasse leerders gekonfronteer met iets wat hulle nie kan doen nie, waaroor hulle skaam voel. Daarom dat sulke geletterdheidsklasse dikwels vroegvroeg leegloop. As geletterdheidsopleiding geakkrediteer is en boonop ’n geleentheid bied om nuttige vaardighede aan te leer en in die proses te leer lees en skryf en syfervaardig te word, dan maak dit baie meer sin om end-uit klas by te woon. Hierdie soort geletterdheid word, by gebrek aan ’n beter benaming, bemagtigingsgeletterdheid genoem. Die vaardighede wat naas lees-, skryf- en syfervaardighede verwerf word, sluit ook lewens-, hand- en besigheidsvaardighede in. Om ’n sessie by te woon skakel Theo Kemp by 021-873-2786.
More
News
|