Paarliet skitter met foto's
2008-10-16
Lise Beyers
’n OUD-BOISHAAIER is onlangs aangewys as drie glanstydskrifte se Bruidsfotograaf van die Jaar vir 2007. Sybrand Cillié het sonder enige formele opleiding, en byna oornag, een van die mees gevraagde bruidsfotograwe in die land geword. Cillié het in die Paarl grootgeword en in 1995 by Boishaai gematrikuleer. Hierna het hy meganiese ingenieurswese aan die Kaapse Technikon gestudeer. Maar Cillié se hart het nog altyd fotografie se kant toe gestaan. “Ek het my eerste kamera gekoop en al hoe meer begin leer oor fotografie, asook die rekenaarprogramme wat daarmee gepaard gaan. Na ’n paar maande in London, het ek by my pa, Gawie, se besigheid, Paarl Mica, ingeval. “Al van my vrye tyd het ek op die internet spandeer en opgelees oor enigiets wat verband hou met fotografie. “Nadat ek my eerste troue saam met ’n ander fotograaf afgeneem het, het ek besef dat my stokperdjie meer geld kan inbring as my ‘day job’, en ek het besluit om my droom te volg en voltyds ’n fotograaf te word.” So het die eerste paar maande finansieel ’n bietjie broekskeur gegaan, maar Cillié het vinnig naam gemaak as ’n besonderse bruidsfotograaf. Vanjaar het hy tot dusver ’n totaal van 65 troues afgeneem. “Ek sal graag meer familieportrette wil afneem en landskappe, maar die troues hou vir my baie besig. Later sal ek ook fotografiekursusse wil aanbied. “Ek geniet my beroep ongelooflik, dis my passie! Ek ontmoet baie interessante mense, en sien die mooiste plekke. Volgende jaar word ek selfs Engeland toe gevlieg om ’n troue af te neem. “Dit is vir my ’n ware voorreg om die gelukkigste dag in ‘n paartjie se lewe te deel. “Maar aan die ander kant is dit ook harde werk, lang ure en ongelooflik stresvol.” * A local photographer was recently crowned as Fair Lady, True Love and Sarie Bridal Photographer of the Year.
More
News
|