Ambulansmanne red bokkie
2008-10-23
LEDE van die Paarl Reddingsdienste, het verlede week ’n onverwagte besoeker gehad, wat nou ook sekerlik haar lewe te danke het aan hierdie flink manne. Verlede Maandagaand het die nagskofpersoneel opgelet dat ’n kleinerige dier in die lang gras op hul perseel skuil. Hulle het eers gedink dat dit ’n hond was, maar toe een van die bemanning die aand met ’n ambulans terugkom op die perseel, het die voertuig ligte op die dier geskyn en tot hul verbasing blyk dit toe ’n klein grysbok te wees. Bambi, soos wat die grysbok dadelik vernoem is, was egter baie sku, en daar was geen kans dat sy sou toelaat dat sy gevang word nie. Die volgende dag het ambulanshoof, Jacobus Fortuin, self die bokkie in die lang gras gesien. “Ons het haar probeer vang, maar sy was te flink vir ons. “Ek het vir Deon Rossouw van natuurbewaring geskakel om te kom help met die diertjie. “Skielik het die bokkie deur die heining gekruip en die pad gevat met Sanddrifstraat op. “Ons het in my bakkie gespring en agter die bokkie aan gery. Sy het eers deur die heining van NoorderPaarl Hoër probeer breek, maar het verder gehardloop tot by die Musieksentrum. Hier kon ons uiteindelik vir haar in ’n hoek druk en na veiligheid bring.” Die grysbokkie het skaafmerke aan haar boude gehad waar sy deur die heining ontsnap het, en die ambulansmanne het eers vir haar gedokter met ’n bietjie salf voordat sy deur Fortuin en Rossouw op ’n plaas teen die hange van Dutoitskloof vrygelaat is. * A small buck was recued when it was spotted by ambulancemen in central Paarl.
More
News
|