Plek vir boekwurms
2008-10-30
Marguerite Lombard
TWEEDEHANDSE boekwinkels het oor die jare baie verander. Die stapels weggooitydskrifte en slaphandboeke met geskeurde buiteblaaie en vaal koffie-spatsels is iets van die verlede. Esther Kotze behoort te weet, want sy is nie net ’n opgeleide bibliotekaresse nie, maar bedryf deesdae ’n tweedehandse boekwinkel in Wellington. Een maal lief vir boeke, altyd lief vir boeke. Behalwe vir die lekkerte om deur meer as 12 000 boeke omring te wees en om boeke “op appro” te kan uitneem net wanneer jy wil, is dit die kontak met ander lesers wat die werk so interessant maak. “Daar is ’n kompulsiteit oor boeke, en dis iets wat ons boekmense verstaan. Self het ek ’n boek in die kombuis, ’n boek langs my bed en selfs ’n boek in die motor.” Boekwurms is ook nie almal eenders nie. “Party mense wil heeltemal op hulle eie gelos word,” vertel sy. “Hul- le sal jou groet, maar maak glad nie oogkontak nie. Hulle verdwyn net so tussen al die rakke. Jy vergeet omtrent dat hulle daar is. “Dan kry jy die mense wat om jou lesenaar kom hang - hulle wil weer raad vra, gesels en uitvra.” Om die voete deur die winkel te verlei, los Esther graag geheimsinnige stapels boeke op tafels, by ’n gemaklike stoel of voor die rusbank. ’n Boek met ’n besondere mooi omslag word uitgestal om ’n nuuskierige nader te lok. Die lekkerste is om ’n boek te kan aanbeveel, of vir iemand aan ’n nuwe skrywer voor te stel of aan ’n ander genre. Nog beter as hulle dan terugkom en vra of daar nog is soos daardie boek wat jy laas aanbeveel het. Mense, wil dit vir haar voorkom, is uitgelees van die biblioteek se boe- ke, en hou van die persoonlike kontak. Dit is nie altyd maklik om te voorspel wat sal goed verkoop nie. Onlangs het sy ’n versameling wynboe- ke bymekaargemaak, maar dié het min aftrek gekry. Die afgelope ses maande verkoop Wilbur Smith se boeke baie goed, en dit wil lyk asof mense hulle weer bymekaarmaak. Jane Austen se boeke kry ook aftrek, seker as gevolg van die rolprente wat die afgelope paar jare verskyn het. Sy kom ook agter dat mense slaphandboeke verkies. Hoekom, vra sy een van haar kliënte? Omdat dit nie so swaar is nie, en ’n mens makliker in die bed kan lees. Die vraag wat altyd opkom is, maar waar kry ’n mens soveel tweedehandse boeke? “Baie keer is dit van mense wat besig is om huis skoon te maak, en dan wil hulle van hulle boeke ontslae raak. Ek is altyd baie kieskeurig, die boeke moet byna nuut lyk en ek neem ook nie tydskrifte of sogenaamde “condensed” boeke in nie. “Die meeste van my boeke kry ek van ’n oorsese verskaffer. Hulle voer houers vol tweedehandse boeke in van Engeland af. Die boeke word dan in ’n skuur op ’n plaas uitgepak - drie verdiepings vol boeke. “Dis hemels lekker. Twee en ’n half uur later is ek nog steeds aan die uitsoek. Ek sê altyd dit is my plesier, die res van die maand hou ek ander mense gelukkig.” Behalwe vir die boeke wat sy uitsoek vir haar winkel Book Traders, hou sy ook ’n lysie byderhand van versoeke vir boeke oor ’n spesifieke onderwerp of deur ’n bepaalde skrywer. “Partykeer is daar by my verskaffer ’n besonder mooi versameling boeke oor ’n bepaalde onderwerp, soos bergklim byvoorbeeld. Dan koop ek dit en stuur aan die bergklimklub ’n lys van die titels. Hulle waardeer dit baie, en ry tot uit die Kaap om die boeke te kom koop,” sê sy.
More
News
|