Stories om ’n konfytfabriek
2008-10-30
Marguerite Lombard
’n STORIE kan begin en eindig by ’n jêmfabriek, het Herman Bailey verduidelik, toe hy begin vertel oor sy familie se geskiedenis tydens ’n storie-aand verlede week by die Breytenbach-sentrum gehou. Die fabriek was natuurlik Piet Hugo se inmaakfabriek in Bainstraat. Die aand is deur die Lemietprojek gereël om ’n “gemeenskapsbiografie” vir Wellington saam te stel deur mense se stories oor hulle dorp te versamel. Die Bailey familie het volgens oorlewering in the 1930s van Merweville naby BeaufortWes na die Boland toe getrek tydens die Groot Depressie. “Dit was nou my Oupa Herman en sy broer Gert,” vertel Herman Bailey (oudburgemeester). “Hulle het alles opgepak en op waens gelaai en tydens die trek op plase gewerk waar hulle kon. “Dit was ons familie se Groot Trek. My pa Jan was toe maar sestien jaar oud en die togleier. My ma vertel dat sy daardie jare in die inmaakfabriek gewerk het, en toe die werkers die gedruis van waens, osse en vee hoor, het almal uitgehardloop om te gaan kyk. “Dit was die Baileys en al hulle waens en vee wat so aandag getrek het. Hulle het deur Bainskloof - toe nog ’n gruispad - by Bain- straat afgekom, deur dié dorp getrek tot by Kleinbosch in Daljosaphat. “Jare later het my ouers mekaar weer ontmoet en getrou. Die sirkel om die konfytfabriek is voltooi toe my pa later vir Dietmann gaan werk het op dieselfde perseel as die ou inmaakfabriek.” Jannie Hugo het weer mense herinner dat Wellington jare gelede bekend was vir sy appelkose. “Mense het vertel dat as jy die Moederkerk se klok kon hoor lui, dan kon jy daar ’n appelkoosboom plant en hy sou dra. “Dit lyk vir my daardie tyd het elke erf in Wellington ’n appelkoosboom gehad. Ek het met my eie oë gesien hoe mense met ’n kruiwa twee of drie kiste appelkose by die fabriek in Bainstraat kom aflewer.” Eienaardige dinge het ook by die fabriek gebeur, het hy vertel. Een boer se kiste appelkose het altyd swaarder geweeg as dié van al die ander boere in die distrik. “Niemand kon uitwerk hoekom nie. Hulle het selfs sy kiste omgekeer om te sien of daar nie miskien klippe onder in lê nie. “Later vind ons uit die Oubaas gooi sy kiste saans in sy sementdam,” het Hugo vertel. Die nat kiste het natuurlik heelwat swaarder geweeg, en het niks te maak met sy appelkose nie. Tydens die Tweede Wêreldoorlog toe die appelkoosboere so met kodlingmot gesukkel het, het Jannie Hugo se pa die besmette vrugte aan hulle varke gevoer. “Eendag sê mnr Nicols by die fabriek, nee mnr Hugo, bring almal, net so, ons het alles nodig, ons troepe veg daar in Noord-Afrika en daai manne het kos nodig, hulle kan nie net jam eet nie - hulle het vleis ook nodig.” Dit is hierdie vertelling wat Jacques Smit weer herinner het aan Charl Marais, wat ook destyds ’n inwoner van Bainstraat was. Charl Marais het ook in die Tweede Wêreldoorlog geveg, en sy eenheid het van die Kaap deur Noord-Rhodesië - nou Zambië - tot in Noord-Afrika per trok gery. “Hy het altyd vertel, Ek is ’n Wellingtonner wat deur die Suezkanaal geswem het. “Hy was ná die oorlog die dorp se bouer en handyman, en het op ’n stadium ook by Jones & Co in die Paarl gewerk.” Charl Marais het ook gehelp om pynappelfabrieke in die Oos-Kaap op te rig, vertel Jacques Smit. “Net na die oorlog het die Oos-Kaap se groot pynappeloeste net begin in- kom. Die Kirstens van die Paarl het ook daar pynappels geplant, en my pa het nog gehelp om die grond voor te berei. “Destyds was daar ’n groot tekort aan boumateriaal en hulle moes plan maak. Dit was hier by die 15de Desember, het Charl Marais vir my vertel, en al die bouers is op vakansie. Hulle besluit toe om al die sement in die Oos- Kaap op te koop en in ’n stoor te berg. “Toe die bouers ná die vakansie hulle oë uitvee, is daar nie ’n sak sement te koop nie. “Die bouers is almal laat weet, as hulle sement wil koop moet hulle vir Charl Marais gaan sien. So het hy sement omgeruil vir sinkplaat of hout en alles wat nodig was om die fabriek klaar te kry.” Dieselfde Charl Marais het ook vir Piet Hugo, die Wellingtonse inmaakfabriek se eienaar, sy huis in Bainskloof gebou. Hugo is in 1941 oorlede en is langs sy droomhuis begrawe sonder dat hy ooit daarin gewoon het. Nog twee tragedies het gevolg: sy seun is in die Tweede Wêreldoorlog oorlede en in 1949 het die Bainskloofhuis in ’n veldbrand uitgebrand en het lank daarna as die Spookhuis bekend gestaan. Jacques Smit vertel dat toe hy in die 1970s opgeroep is vir diensplig, was Charl Marais ’n bekende gesig op Wellington se stasie. “As hy gehoor het daar is troepe wat vertrek, het hy kom groet. Hy het altyd gesê, Boetas, luister mooi, ek was in die army. Dead heros are useless. As jy hardloop, kan jy nog deurkom.” Die Hugo’s se konfyt- of inmaakfabriek is later oorgekoop deur Langeberg en is daar- na verskuif na die Paarl. Die fabriek in Bain- straat is toe deur Dietmann - die klavierfabriek - oorgeneem. ’n Versameling van foto’s en stories oor Bainstraat sal volgende maande by die Wellingtonse museum in Kerkstraat besigtig kan word.
More
News
|