Leer speel-speel in wingerde
2008-10-30
Malané Bosman
DIE boere van die Wellington omgewing leer so speel-speel – van wingerd en van wyn. So was dit weer toe 67 boere die Saterdag met hul bakkies aangetree het vir die jaarlikse uithourit, met deelnemers van Wellington, Wamakersvallei en Bovlei kelders. Praktiese en teoretiese kennis van wingerd en wyn van die verskaffers van druiwe word so getoets, nuwe inligting bekom, en alles tot voordeel van die bedryf. Verskeie persele is op GPS koördinate uitgesit en ’n roetekaart opgestel na wingerde op verskillende plase tussen Wellington en Riebeek-Wes. By elke punt moes spanne vrae beantwoord voordat hulle na die volgende punt kon vertrek. Grondvoorbereiding, onderstokkeuse, kultivarkeuse en plantwydtes is bespreek. Praktyke, prieelstelsels, onkruiduitkenning en -beheer, siektes en plae asook gradering en wyndoelwitte was onder die kollig. So tussen die kopkrap was daar die wete dat daar op die roete ’n watergat wag en dat daar by die eindpunt braaivleisvure brand. En natuurlik was daar ook pryse op die spel, nie net vir die slimstes en die vinnigstes nie, maar ook vir dié wat vir die grootste flater van die dag gesorg het. Die 24 bakkies het douvoordag by Wamakersvallei Wynkelder weggespring en vier uur later het die eerstes by die eindpunt, Nuwedrift plaas in Riebeek-Wes, aangekom. Die wenners van die dag was Jean Joubert van Olyvenhoutplaas (Wellington Wynkelder) en Christo Nortjé van Blydeverwacht- plaas (Bovlei Kelder). Die span van Willie Laubscher (Wamakersvallei Wynkelder), Danie Malan, Riaan Mouton en Petro Malan (almal van Wellington Wynkelder) was tweede, met Cassie Steyn en sy seun Kallie, Haumann Brink en sy broer, Van der Byl, (Wamakersvallei Kelder) in die derde plek. Jean Joubert het onder groot gelag die prys gewen vir die flater van die dag, nadat sy bakkie die gees gegee het.
More
News
|