Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


’n Storieverteller duisend

’n Storieverteller duisend
 
2008-10-30

Marguerite Lombard

EDITH STEPHENSON is lief vir reis, en hierdie liefde het sy van haar pa Gideon Gabriel “Basie” Rossouw geërf.

Vandag woon sy en man John in die Rossouws se familiehuis - herdoop na Onze Werf - in Bainstraat aan die Spruitrivier.

Die erf was lank gelede deel van die Huguenote plaas Champagne, wat later onderverdeel is om die dorp Wellington te vestig.

Sy vertel dat, nog voor sy gebore is, het haar pa Wellington se drukkery van Pietie Roux gekoop. Die Wellington Drukkerij was altyd in Malanstraat en het die Wellington Gazette gedruk. Die koerant is later in die Paarl Post opgeneem.

“My ouers het in 1929 Groot Mist toe getrek, en ek is daar in 1933 gebore. My broer was toe so ses of sewe jaar oud. Daar het my ma ’n winkeltjie gehad en my pa het diamante gedelf.”

Toe sy ses jaar oud is, trek die familie weer, hierdie keer na Namibië (of Duits-Wes soos hulle dit toe genoem het). Weer agter diamante aan.

Tog het hulle altyd weer teruggekeer Wellington toe om vir oupa en ouma Rossouw te kom kuier.

“Ek onthou toe ek nog baie klein was, sit ons in Oupa se huis om die eetkamertafel. Dan voel ek hoe bewe die vloer as of daar ’n aardbewing is. Dan is dit Oupa se perd wat in die stal staan en kap met sy voete.”

Behalwe vir die perd met sy Clydesdale pote, het haar oupa ’n groot groentetuin gehad en ’n skuur vol waens: die “spider” waarmee daar stasie toe gery is, die “skoonwa” vir as daar meel of suiker gehaal moes word, en die “vuilwa” vir die steenkool en hout.

Ná skool het Edith begin om buitemuurs drama te studeer by bekendes soos Joey de Koker en Babs Laker.

Sy het in ’n rolprent “Die Reën kom Weer” gespeel.

“Dit was baie gewild en het seker twintig jaar geloop - tot in Suidwes en Rhodesië soos dit toe genoem is.”

Daar was ook advertensies vir ’n Duitse maatskappy. Sy onthou die oudisie vir Wrigglies Chewing Gum, waar sy ’n paar modelle uitgestof het vir die rol.

“Hulle het aangestap gekom, so met die een voet voor die ander, kompleet soos ’n kameel. Dit moes baie inspanning gekos het, want hulle kon nooit die woorde reg onthou nie!”

Dan was daar die advertensie vir Firestones: “Ons moes drie uur die oggend op ’n plaas in Durbanville wees, om betyds te wees vir die sonsopkoms.

“Die kameras was reg, daar was ’n man om die ganse op die regte oomblik los te laat, en ek het ’n fles koffie.

“Soos ek nou loop moet die man die ganse loslaat, en daar staan my man, die boer, by die trekker.

“Dis net daar waar ek sien die trekker het dan Goodyear tyres! Die regisseur het amper ’n hartaanval gekry.”

Dit kos toe die trekker omdraai om sy Firestone-kant te wys.

Dan was daar al die radio-werk vir die SAUK: “Ons het altyd twee aande in die week gerepeteer, dan Saterdae en Sondagmiddae die opnames. Die SAUK was daardie dae in Pleinstraat, toe trek ons Strandstraat toe en later na Seepunt.”

Mense het haar stem leer ken en partykeer op die mees onwaarskynlikste plekke.

“Ons was een jaar in Namibië naby die Etoshapan. My seun was toe vyf jaar oud en hy het altyd gehoor hoe ek as kind bok-ka­paters gery het. Toe gaan vra ek vir ’n boer of my seun nie een van sy kapaters kan ry nie.

“Hy kyk my so en sę meisiekind, maar ek ken jou stem, Haai, dis moes Amelia se stem.”

Die radio-storie loop toe al sewe jaar.

“Hy roep vir sy vrou, ‘Vrou gooi vir haar koffie en los die bokmelk, gee vir haar daai nuwe ding - die kremoora.’”

Die man vertel hoe hy en sy vrou met die bakkie saam met hulle beeste, bokke en skape getrek het op soek na weiding.

“Dan, vertel hy, so kwart voor drie moet alles stop. Dan sę hy: Vrou, gooi die draad in die bos, ek sal solank vuurmaak. Teen drieuur is die koffie klaar en dan luister hulle vir ‘Amelia’ op die radio.”


More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za