Hupstoot vir studente
2008-11-06
DIE Paarl Media Beursfonds het in 2008 sy eerste studente ’n hupstoot gegee om hul studies aan verskeie tersiêre instellings in die Wes-Kaap aan te pak. Gedurende Oktober is die tien nuwe beurshouers vir 2009 aangekondig. By ’n funksie is hulle gelukgewens en ook sukses toegewens vir hul eindeksamens en voornemende studies. Volgens Lambert Retief, trustee en voorsitter van die Paarl Media Groep, is Paarl Media in die posisie om ’n beter toekoms aan ’n handjievol jong mense te bied, maar dit hang af van elke student om persoonlike toewyding en dryfkrag aan die dag te lê om hul kursus suksesvol te voltooi. Dit kan verseker dat hulle weer in aanmerking geneem word vir ’n beurs in die daaropvolgende jaar. Die nuwe beurshouers is baie opgewonde oor hul voornemende studies wat oor ’n wye veld van Ingenieurswese tot Sosiale Wetenskappe strek. Die R10 miljoen Paarl Media Beursfonds word as ’n aaneenlopende fonds bestuur en die doelwit is om teen 2010 ten minste 20 studente te ondersteun. Suksesvolle kandidate word vir die tydsduur van voorgraadse kursusse aan erkende Wes-Kaapse tersiêre instellings befonds op die voorwaarde dat elke akademiese jaar suksesvol voltooi word. Daar is geen spesifieke voorskrifte ten opsigte van die studieveld nie, maar leerders word op akademiese meriete en potensiaal aangewys en benodig finansiële hulp.
More
News
|