Poue bedreig
2008-11-06
POUE het Paarliete tans op hol. Nadat ’n pou onlangs na bewering met ’n kierie doodgeslaan is in die omgewing van Plantasie- en Kampstraat, is verskeie inwoners van Courtrai bekommerd oor die toekoms van die talle poue wat hiér rondloop. Maar ander is weer ontstoke oor die hoeveelheid poue wat die strate invaar en vir hulle snags wakker raas. Daar loop nou 12 poue hiér rond en hulle teel duidelik vinnig aan. Maar vandeesweek het die Paarl Dierebeskermingsvereniging ingegryp om te keer dat nog ’n pou se kop waai. Hulle het ’n veilige blyplek vir die voëls geïdentifiseer en is nou in die proses om hulle aan te keer. Linda Groenewald van die DBV maan dus die publiek vir hul samewerking hiermee. “Pou vang is nie ’n maklike ding nie. Die poue vlieg vinnig van dak tot dak, en selfs Spiderman sal hulle nie beetkry nie. “Dus gaan ons voedsel uitsit vir hulle wat vir hulle tydelik sal bedwelm. Die proses gaan nie oornag gebeur nie, maar ons hoop om binne die volgende paar weke die probleem opgelos te hê. “’n Groot rede hoekom die poue hul tuiste hier gemaak het en so goed aanteel, is omdat sekere inwoners vir hulle voer. Ons vra dat hulle dit asseblief nie moet doen nie.” Indien daar lede van die publiek is wat wil hand bysit om die poue te help aankeer, kan hulle vir Linda skakel by 021-863-2720.
More
News
|