Sentrum help gestremdes
2008-11-06
Sieb Sieberhagen
OM kliënte op te lei om in die samelewing hul man te staan en ’n inkomste te verdien, is een van die belangrikste uitgangspunte van die Drakenstein Sentrum vir Persone met Gestremdhede. Dié sentrum, net buite Paarl op die Simondium-pad, is vanjaar 25 jaar oud en bedien tans 30 voltydse kliënte. Agt voltydse personeellede help met die vaardigheidsonderrig, dagtake en administrasie. Hulle het ook die Siyanceda diensprogram van stapel gestuur om mense lewensvaardighede in die praktyk te leer soos skoonmaakdienste sodat hulle makliker in die ope arbeidsmark in diens geneem kan word. Lynette Williams, maatskaplike werker en die persoon in beheer van die vaardigheidsklasse by dié sentrum, sê die 30 kliënte wat vaardigheidsonderrig ontvang, word gedeeltelik deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling gesubsideer, maar befondsing bly maar altyd ’n kwelling en hulle is dankbaar vir die steun wat hulle van die Paarl Post Kersfonds kry (via Gemeenskapskas). “Fondsinsameling speel steeds ’n belangrike rol in die daaglikse operasie van die sentrum. Ons pak heelwat fondswerwingsaksies aan wat goed soos straatkollektes, piekniekdanse, braaiverkopings, funksies en selfs ’n motorkompetisie insluit. “Ons bedien die Drakensteingebied en moet elke dag die kliënte by die sentrum besorg. Ons gebruik tans net een bus om die mense hier te kry. “Ons het vanjaar ook die Franschhoekprojek geloods waar ons deur middel van gemeenskapsgebaseerde rehabilitasie ouers met gestremde kinders die regte leiding en onderrig gee. En dit is beslis ’n projek waarmee ons in die toekoms sal voortgaan,” sê sy. “Gelukkig kan ons praat van ’n suksesverhaal by die sentrum, sê sy. “Ons wil nie hê dat die mense net sentrum-gebaseer moet wees nie, maar hulle moet in die gemeenskap opgeneem word. Daar is al selfs mense wat in die stofferingsafdeling so goed gevaar het, dat hulle hul eie besighede oopgemaak het. “Ons het beslis ’n behoefte vir nog kontrakte om ons kliënte besig te hou, soos met die vul van koeverte of om items in pakkies of sakkies te sit. “Ons kliënte se hande staan ook reg om goed te buig, te sny of aanmekaar te sit. “Die maatskappye wat die kontrakte verskaf voorsien ook gewoonlik die toerusting waarmee die vaardigheidstake uitgevoer kan word,” sê sy.
More
News
|