Wie-is-wie op Wellington
2005-07-28
’n BIOGRAFIESE register word tans saamgestel van al die bekende en beminde Wellingtonners wat vanaf die dorp se ontstaan ‘n impak op die gemeenskap gehad het - hetsy danksy hul onbaatsugtige diens, of weens besonderse prestasies op die gebiede van sport, kultuur of politiek of binne hul beroepe.
Wellingtonners word uitgenooi om mense te nomineer wat opgeneem kan word in die register, wat ‘n projek van die Wellington Museum is.
Die biografiese register sal ‘n kort lewensbeskrywing van elke inskrywing bevat, soortgelyk aan die voorbeeld van die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek.
In die verskillende volumes oor die geskiedenis van Wellington, wat deur die Vriende van die Wellington Museum saamgestel is, word melding gemaak van bekende figure.
In een van die hoofstukke oor alombekende Wellingtonners, word van die Voortrekkerleier Piet Retief tot hedendaagse sanger Valiant Swart vervat.
Volgens samesteller dr Etienne Smit is hierdie lys nie genoegsaam nie, omdat dit net meestal mense vervat wat landswyd (en in sommige gevalle wêreldwyd) bekend is.
Dit gee egter nie noodwendig erkenning aan mense wat ‘n spesifieke rol net tot die uitbou van Wellington gespeel het nie.
“Daar is soveel mense wat oor baie jare heen ‘n bydrae tot die gemeenskap gemaak het en baie daarvoor gedoen het,” vertel hy. “Ongelukkig, wanneer hulle sterf, raak hulle bydrae so gou vergete.”
“So is daar al derduisende verby,” glo hy.
“Ek weet dat mense baie keer beskeie is, maar hul nominasies sal help om Wellington se geskiedenis deeglik te kan opteken.”
Die register sal nie net uit hedendaagse inwoners bestaan nie, maar ook uit Wellingtonners wat van die vroegste dae van die dorp se bestaan ‘n impak gehad het.
Dus word familielede wat ‘n lewensbeskrywing van een van hul voorouers kan gee, ook uitgenooi om dit te doen.
Om in die register opgeneem te word, moet die persoon minstens tien jaar van sy of haar lewe in Wellington of distrik gewoon het.
Die persoon moes oor die loop van jare op minstens twee terreine diens aan die gemeenskap gelewer het, hetsy op bestuursvlak of aktief betrokke by spesifieke aksies. Dit sluit onder meer kerkrade, munisipale rade, sportklubs, kultuurverenigings en die politiek in.
Persone wat nie aan hierdie twee vereistes voldoen nie, kan nogtans oorweeg word mits hy of sy op’n bepaalde terrein op uitmuntende wyse aan die gemeenskap van Wellington diens gelewer het, of buitengewone leierskap getoon het.
Nasionale en internasionale prestasies of erkennings word ook hierby ingesluit. Hier kom onder meer nasionale prestasies op die sportveld, of mense wat binne beroepsverband hoë aansien verwerf het, ter sprake.
“Dit geld ook vir mense wat hier grootgeword of skoolgegaan het, en hul prestasies in die lewe elders behaal het,” verduidelik dr Smit. Volgens dr Smit is die kriteria baie wyd, om soveel mense as moontlik in te kan sluit.
Hy hoop om teen die einde van die jaar ‘n eerste bundel te kan saamstel, wat by die Wellington Museum beskikbaar sal wees vir diegene wat belang stel. Die ideaal is om ook kopië by die dorpsbiblioteke te kan plaas.
“Dit is veral handig as mense saam met die nominasievorm enige ander dokumente kan aanheg waaruit ‘n lewensbeskrywing saamgestel kan word,” verduidelik dr Smit.
“Ons wil nie net ‘n lys van aktiwiteite weergee nie, maar wel ook die detail van ‘n persoon, of die prestasies van ‘n organisasie in die tyd waartydens hy of sy daaraan verbonde was.”
Lewensbeskrywings, huldigingsredes, getuigskrifte of ou koerantknipsels sal baie help om ‘n sinvolle inskrywing vir die biografiese register te kan saamstel.
Nominasievorms waarop die nodige inligting aangeteken kan word, is van die Wellington Museum beskikbaar by tel 873-4710.
Afskrifte kan ook per e-pos aangevra word by gertie@ iafrica .com.
More
News
|