Siek gemeenskap moet gehelp word
2008-11-13
Sieb Sieberhagen
MAATSKAPLIKE werkers in die Drakenstein-gebied is diep bekommerd oor die toename in dwelmgebruik, veral van Tik, deur kinders van so jonk as agt en nege jaar. Dit is maar een van die probleme in ’n gemeenskap wat gekenmerk word deur armoede, werkloosheid, alkohol- en dwelmmisbruik, kinerverwaarlosing, kinderverlating, skoolversuim en bende-aktiwiteite. Kindersorg SA, een van verskeie maatskaplike organisasies in Paarl en Wellington wat deur die Paarl Post Kersfonds gesteun word, het elke dag met die omvang van Tik-verslawing en ander maatskaplike probleme te doen. Dié Paarl-tak van Kindersorg SA, met sy tien voltydse werkers, hou hulle besig met projekte wat wissel van ’n bewaar- en pre- primêre skool tot projekte waar ouers leiding ontvang. Benita Williams, een van twee maatskaplike werkers by Kindersorg Paarl, sê hulle hanteer elke maand tientalle gevalle. “Tans het ons omtrent 500 gevalle waaraan ons aandag moet gee. Ons kry befondsing van die Departement Maatskaplike Ontwikkeling, asook van private donateurs, maar die probleme en die maatskaplike gevalle word nie minder nie. “Kinders so oud soos agt en nege koop deesdae Tik. Die pryse wissel van R5 tot R50. So kan almal dit bekostig, wat die probleme net groter maak. “Geleenthede moet vir die kinders geskep word, sodat hulle besig gehou kan word, veral wat nasorg ná skoolure betref. Wanneer die skool uitkom, is daar niemand by die huis om die kinders op te pas nie,” sê sy. Die twee nasorgsentrums, Amstelhof en Magnolia, huisves tans tussen 60 en 70 kinders daagliks waar hulle van kos en nasorg voorsien word. Hier word die kinders ook blootgestel aan opvoedkundige programme. Die sewe skole in Kindersorg Paarl se bedieningsgebied, waar hulle goeie ondersteuning kry, word ook bygestaan met spesiale projekte wat insluit HIV/Vigs, Oog op die Kind, en ’n ouerleiding (Botswadi) projek. Megan Isaacs, gemeenskapsontwikkelingswerker van Kindersorg, sê dat dat daar reeds sigbare veranderinge waargeneem word. Belangstellendes wat hulp wil verleen of meer oor hulle doen en late wil uitvind, kan hulle skakel by 021-862-6182 of kontak childwelfarepaarl@telkomsa.net. Die Wellington-tak kan gekontak word by 021-864-385. Hul kantore in die Safmarine-sentrum in Coodestraat is weeksdae van 08:00 tot 16:00 oop. Dié kantore het ’n maatskaplike werker, gemeenskapswerker en administratiewe werker voltyds in diens.
More
News
|