Mev Toerisme soek vrede
2005-07-28
DAAR’S nie ‘n roetekaart of brosjure beskikbaar vir die nuwe lewensrigting van Wellington se Mev Toerisme nie, maar dis ‘n pad waarlangs sy hoop om vir mense iets te beteken, en terselfdertyd meer van haarself te ontdek en weer vrede te ervaar.
Wellington se toerismehoof, Melinda van der Merwe, het einde Junie na ‘n dinamiese byna veertien jaar bedank en die deure toegetrek agter die “lekker aftree joppie” wat sy in die vroeë negentigs aangebied is.
Tyd vir voete opsit is daar nie nou vir dié oud-bibliotekaresse met die organisasievermoë van ‘n Filofax nie. Sy’t pas voel-voel, maar uiters begeesterd, begin met ‘n Reiki-kursus in alternatiewe genesing op Stellenbosch.
“Ek kan tog nie op 55 by die huis sit nie,” lag sy, met haar flambojante leesbril nooit te ver weg nie, en haar naels selfvertroue-rooi geverf.
Sy het immers nog maar altyd tussen kinders kry, vaste betrekkings en aflos-posisies deur, gewerk.
Wanneer sy nie bibliotekaresse in onder meer Bredasdorp of die Paarl was nie, het sy “om die wolf van die deur af te hou” enigiets van kursusse aangebied in laslappiewerk tot skoonheidsprodukte verkoop.
“Ek glo ek is groot genoeg om te kan omdraai as dit nie die regte ding vir my is nie,” vertel sy rustig oor dié nuwe rigting vanuit die sitkamer van die woonhuis in Blouvleiweg wat sy en haar versekeringsman, Callie, sedert 1987 bewoon.
Wat begin het as bloot ‘n kopie om “so gou as wat ons kon ‘n huis in ons naam te kry” nadat dié gebore Paarliet se gesin vanaf Roodepoort terugverplaas is na die Wynlande, het gestalte gegee aan ‘n intieme verhouding met die ontwikkeling van die plaaslike toerismebedryf.
Met haar intrek op Wellington het Melinda gou besef dat sy deel van die gemeenskap moet raak om deel te word van die dorp wat Paarliete maar altyd as ‘n stiefsuster beskou het.
“Niemand op ‘n nuwe dorp het jou nodig nie. Jy het hulle nodig en daarom moet jy jou gewig ingooi om deel daarvan te word.”
So het sy onder meer betrokke geraak by die VLV, en later selfs sekretaresse van die Paarlse Sirkel geword. Aspekte soos vergaderingsprosedures wat sy hier geleer het, was later baie waardevol.
“Ek glo mos ‘n mens leer op elke plek waar jy kom, en dat dit jou slyp vir wat jy later doen.”
In 1992 is sy die werk aangebied as inligtingsbeampte vir die Wellington Munisipaliteit, maar sy was bra langtand oor dié toentertydse halfdagpossie.
“Ek onthou nog stadsklerk Jacques Carstens het gesê dis ‘n lekker ou “aftreejoppie”, terwyl dr Johan Mouton by die onderhoud gesê het dit tel teen my dat ek ‘n Paarliet is.”
In haar eerste werksmaand het net 52 besoekers ‘n draai gemaak by haar lessenaar in die voorportaal van die munisipale gebou, wat toe vanuit die stadsaal bedryf is.
“Ek het binne twee maande besef ek kan rustig wees en min doen, of uitspring en iets groots probeer.”
Die skuif van die toerismeburo na sy huidige perseel in die ou Markgebou in Hoofstraat, en die verhoogde sigbaarheid van Wellington se I vir Info, het saam met aktiewe bemarking daartoe bygedra dat meer as 20 000 mense verlede jaar deur hul deure gestroom het.
Melinda het onmiddellik die bemarkingspotensiaal van ‘n gekombineerde funksie gesien toe Tinus Broodryk, destyds bestuurder van Bovlei Wynkelder, en Pieter Cilliers voorstel dat die dorp se bestaande reklamevereniging saamwerk met die nuutgestigte Wellington Wynroete.
“Hulle was toe al versiende om toerisme en die wynbedryf te laat saamwerk,” glo sy. “Wyntoerisme is mos deesdae die ‘buzz word’ en Wellington se voorbeeld is later gevolg deur onder meer Swartland en Franschhoek.”
Onder haar hoogtepunte tel die toekenning aan Wellington vir die beste plattelandse toerismeburo in 2001 deur die Wes-Kaapse Toerismeraad.
“Ek het nog altyd ‘n ongelooflike span mense om my gehad,” vertel sy met heimwee oor kollegas soos Mercia Victor, Hedwig Moore, Amanda Carstens en Jo-Ann Steenkamp.
‘n Verskil in opinie oor Drakenstein Munisipaliteit se planne vir die bedryf van toerisme in die Vallei, het die afgelope paar maande tot heelwat spanning vir Melinda gelei.
“Ek kan nie saamleef met wat tans beplan word nie.”
“Ek het een oggend opgestaan en besef ek kan nie so voortgaan waar mense, omstandighede en gebeure my balans versteur nie.”
Daarom het sy nee dankie gesê vir ‘n verdere jaarkontrak wat haar aangebied is.
“Geld is nie alles in die lewe nie. Mens moet maar lag oor dié goedjies; mens kan nie op ‘n hopie gaan sit nie,” sê sy.
Haar afskeidspresent van haar personeel was ‘n handboek oor alternatiewe genesing, en spesifiek die Reiki-tegniek waarvoor sy as terapeut wil kwalifiseer.
Dit ontsluit die positiewe energie in mense vir spirituele genesing, en stel hulle in staat om grense af te breek.
“Ek glo dit gaan van my ‘n beter mens maak, rustiger.”
“Ek soek weer daardie vrede wat ‘n mens so onderdruk wanneer jy in ‘n werk staan waar jy fokus om ‘n effektiewe taak te verrig.
Sy sê dis swaar om skiet te gee aan iets waaraan mens so hard gewerk het, en waarvoor sy nog soveel planne gehad het.
Haar grootste suksesvolle projek, glo sy egter, is haar kinders. Die oudste is haar wêreldreisiger dogter Lieze, wat saam met haar man op ‘n kibboets in Israel woon.
Dan kom Malan, wat in die versekeringsbedryf is en op wie se studiesuksesse sy besonder trots is.
Ross, ‘n staatmaker in die Wellingtonse rugbyspan, is haar “verskriklike vriendelike” kind.
“Ek dink nie noodwendig hulle is die beste nie, maar ek het hulle onvoorwaardelik lief,” blom sy oor haar kinders.
Oor haar toekomsverwagtinge buite die toerismebedryf is Melinda realisties.
“Ek dink dalk het die Liewe Vader alles laat gebeur om my kans te gee vir ‘n verandering in my lewe, en om vir ander mense iets te beteken.”
“Ek het sterre in my oë oor die toekoms,” sê sy met ‘n reguit kyk.
More
News
|