Hande dol van klappers
2008-11-13
Lise Beyers
TALLE diere moes verlede week koes in die vallei, toe vuurwerke rond en bont afgeskiet is. Alhoewel daar tot dusver vanjaar geen beserings of sterftes onder diere was nie, het verskeie diere blindelings die pad gevat uit vrees toe die hemele begin dreun het. Een van hierdie honde is die boerboel Maxi, wat skuiling gaan soek het by die Paarl Hospitaal. Maxi het saam met sy twee broers en baas, Len Raymond, verlede Donderdagaand oudergewoonte gaan stap by die Boy Louw sportvelde in die Bergrivier Boulevard. Maar voordat hulle nog kon stap, is klappers afgeskiet naby die voertuig waarop hulle gery het. Maxi het verward van die bakkie afgespring en die pad gevat. Toevallig het ’n persoon wat by die Paarl Hospitaal werk, vir Raymond voorgekeer en vertel dat hy gesien het dat een van sy honde afgespring het. Teen daardie tyd was daar geen teken van Maxi nie, en Raymond het inderhaas na haar begin soek. Sy was egter skoonveld. Intussen het Maxi skuiling gaan soek in die gange van die Paarl Hospitaal. En hier het dieselfde persoon wat gesien het dat sy van die bakkie afspring, vir haar raakgesien en die plaaslike DBV gekontak. Maxi is baie vroeg die volgende oggend verenig met sy baie verligte baas. Die Raymonds wil graag die onbekende persoon van Paarl Hospitaal bedank vir sy bydrae met die terugbesorging van hul hond. ’n Woordvoerder van die DBV het gesê dat mense nie besef wat se skade hulle aanrig met die afskiet van vuurwerke nie. “Ons sit met ons hande vol wanneer hierdie tyd van die jaar aanbreek, en tot in die Nuwe Jaar word vuurwerke afgeskiet. “Die munisipaliteit kom nie hul pligte na met die bekamping van die gebruik van vuurwerke nie. “Die enigste manier waarop hierdie plaag einde sal kry, is as ’n algehele verbod op die verkope van vuurwerke ingestel word.”Fire-works once again caused havoc amongst animals during Guy Fawkes celebrations.
More
News
|