Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Die raadsaal is sy domein

Die raadsaal is sy domein
 
2005-07-28

Susan Botha

“NEE, nee, kollegas. Dit gaan ek nie toelaat nie. Ons is almal grootmense!”

Hierdie woorde van Zandisile Killion Cekiso, Speaker van Drakenstein, het al menige onderonsie tussen raadslede in bedwang gebring.

Sy groot figuur dwing respek af, net soos sy drietaligheid: Xhosa sy huistaal, Engels sy werkstaal en sy Afrikaans stadig, duidelik en soms selfs idiomaties.

Cekiso se loopbaan as Speaker het op 6 November 2002 begin, nadat die ANC beheer van die raad oorgeneem het en besluit het hy is die aangewese persoon vir dié pos.

“Ek was nogal verras oor dié besluit. Ek bly in Gouda en dit is maar ’n klein dorpie binne Drakenstein. Ek het gedink daar is baie mense in die omtes wat die posisie kan vul.

“Toe ek die toga die eerste keer aantrek, was ek benoud,” vertel hy. Dit het effe knap gesit maar hy moes maar uithou, want vir baadjie uittrek was daar nou nie tyd nie.

“Ek het baie emosioneel geraak en gewonder oor dié taak wat nou op my skouers rus.” Lank tyd vir tob was daar nie, want hy moes die stoel inneem om die res van die verkiesing te hanteer.

Hy sê wat hom gehelp het, was die ondervinding wat hy opgedoen het in die 1995-verkiesing, toe hy genomineer was as burgemeester vir Tulbagh.

“Maar ek was nog steeds op my senuwees, Tulbagh het net 13 raadslede gehad en hier het ek nou gesit met 58 raadslede, amptenare en die publiek.”

“Die ANC koukus het my aangemoedig om orde te handhaaf en die Reglement van Orde te gebruik as handleiding. Hulle het gesê ek moet seker maak ek ken dit. Hulle het gesê vat dit saam bed toe en blaai daardeur as jy wakker skrik.”

Cekiso sê hy het besef dat hy met kundige mense in die verskillende politieke partye sit. “Dit is nie maklik nie, partykeer kry ek pak by die ANC én die ander partye.”

Dit is behoorlik kophou tussen opsommings van toesprake, volg van prosedures en beheer van spreekbeurte.

Veral die spreekbeurte kan ’n pyn wees. “Ek glo almal het die reg om te praat, maar as raadslede tot vyf keer wil praat, moet ek die gesprek stop.”

Ander tameletjies waarmee hy al gesit het, was ’n raadslid wat na bewering onder die invloed by ’n vergadering opgedaag het. “Die sweep het buite die vergadering met dié betrokke raadslid gepraat en toe hy nie luister nie, moes ek die prosedure volg.”

Nog ’n voorval was waar ’n raadslid nie behoorlik geklee was nie. “Kleredrag gaan daaroor dat ons onsself moet respekteer en ek moet ook die orde handhaaf.”

Cekiso sê een van die moeilikste vergaderings wat hy moes hanteer, was ’n spesiale raadsvergadering in 2003. Dit het begin met ’n onderonsie tussen raadslid Titus Williams (NNP) en raadslid Deetlefs du Toit (DA) en het uiteindelik op ’n hofsaak uitgeloop.

“Dit was chaos en het amper op ’n straatgeveg uitgeloop,” vertel hy.
Maar eintlik geniet hy sy werk, en veral om met mense te kommunikeer.

Soos die wykskomiteestelsel wat uit sy kantoor bedryf word en wat nou vinnig begin vorm aanneem.

Taal is vir hom belangrik: “As ons nie mekaar verstaan nie, kan ons nie kommunikeer nie.”

Dit is reeds wat Cekiso in 1998 laat besluit het om Afrikaans-klasse te loop by die aandskool op Tulbagh.

“Ek kon Afrikaans praat, maar nie vlot nie. Nou kon ek ook leer om die taal te lees en te skryf. Ek bly in ’n gemeenskap wat Afrikaans is, dit is belangrik dat ek dit moet kan skryf.”

Cekiso is gebore 15km buite Dordrecht, in die distrik van Lady Frere, en het daar grootgeword.

Op 20-jarige leeftyd het hy in die Boland kom werk soek en hom op Gouda gevestig. Hy het oos sy vrou, Gladys, in die Boland ontmoet.
Hier het hy sinoniem geraak met die Gouda Hotel, waar hy vir 31 jaar gewerk het, hoofsaaklik as kroegman, tot Januarie verlede jaar.

Cekiso is baie nugter oor die pad vorentoe: “Ek weet nie hoe lank ek in die politiek sal wees nie en ek wil my meer posisioneer in die sakewêreld.”

Dit is reeds hierdie besluit wat hom nou op die voorblad van ’n Kaapse poniekoerant laat beland het.

In ’n berig verlede Maandag is bewerings gemaak oor ’n onwettige sjebeen wat aan hom sou behoort en die bedrywighede daar.

“Ek is baie ontsteld. Dit is mense met politieke motiewe wat koerant toe gehardloop het.” Hy sê niemand op Gouda ken die persoon wat sogenaamd gaan kla het nie.”

Cekiso vertel dat hy, Roger Oerson wat in sy kantoor werk, en nog twee persone op 26 November verlede jaar die gewraakte “sjebeen” op ’n veiling gekoop het. Hulle het op 24 Desember weer die deure oopgemaak.

“Ons het ’n wettige dranklisensie, wat by die polisiekantoor op Tulbagh lê,” sê hy en voeg by dat Streamers ’n taverne en nie ’n sjebeen is nie.

“Ons het die voorwaardes van die lisensie vooraf met die drankoffisier bespreek, want ons soek nie konfrontasie met die polisie nie.”

Op die oomblik wag hulle vir registrasie by die aktekantoor.

Cekiso sê die koerant het hom die vorige Vrydag gevra vir ’n afspraak die Saterdag. "Ek kon dit nie maak nie, want my seun, Stanley, het dié dag vir die Boland o.19-span uitgedraf teen die Franse. Sondag is ’n kerkdag en die joernalis het toe gesê hy sal terugkom na my toe, wat hy nooit gedoen het nie.”

Volgens Cekiso is dit ook die laaste wat hy met ’n joernalis van die betrokke publikasie gepraat het. Hy het wel met Oerson en die ander vennote gereël om beskikbaar te wees vir ’n moontlike onderhoud die Saterdag.

Oerson vertel dat die mense die middag net voor 14:00, oopmaaktyd by Steamers, ’n voertuig van die koerant in die dorp gewaar het.
Hulle het hul na die taverne gehaas, maar die motor was reeds weg - ’n foto van die gebou skynbaar klaar geneem.

Die Speaker sê hy oorweeg optrede teen die koerant. “Ek het ’n hoë profiel in die gemeenskap en ek is ’n man met ’n gesin ook. Gouda is ’n klein dorpie waar almal mekaar ken.

“Daar is so baie smokkelhuise op die dorp, net die Gouda Hotel en ons is wettig.

“Ons motivering om Streamers te koop, is nie in die eerste plek oor geld nie. Ons kan nie toelaat dat Kapenaars hier oorneem nie.

“Ons het klante wat nooit voorheen daar gekom het nie. In die sewe maande wat ons in bedryf is, het ons ook werk geskep vir vyf mense,” vertel hy en voeg by dat hulle streng sekuriteit het.

“Ons plek is gewild. Mense van die stad, Paarl, Worcester, Saron en Ceres kom elke naweek hier kuier.”

Selfs in hierdie storm om sy kop, bly Cekiso rustig en bedaard.
Een ding is duidelik: of hy die raadsvergadering bestuur of ’n taverne, sy goeie naam is vir hom belangrik en in alles dra hy ook die belange van die gemeenskap op die hart.

* Gouda resident Zandisile Killion Cekiso is the Speaker of the Drakenstein municipal council.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za