Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Polisiehoof sterf

Polisiehoof sterf
 
2005-07-28

Malané Bosman

DIE skielike dood verlede week van die kommissaris van die Paarl polisiestasie, senior/supt Paul Marais, het sy gesin, kollegas en vriende verslae gelaat.

Supt Marais (59) was in sy 18 jaar as bevelvoerder van die Paarl polisie net twee weke met siekverlof.

Dit was vroeër hierdie maand, nadat hy homself erg verbrand het toe hy in die stort lighoofdig geword en die verkeerde kraan toegedraai het.

Met meer as 40 jaar diens in die polisie sou “oom Paul”, soos hy goedig agter sy rug, en (met verlof) in sy gesig genoem is, in Junie volgende jaar aftree.

Sy laaste woorde aan sy sekretaresse toe hy Woensdag huis toe is, was “Old soldiers never die. They just fade away.”

Dit was hom nie beskore nie. Dieselfde aand het hy in sy
slaapkamer aan ’n massiewe hartenaanval gesterf.
Supt Marais was ’n hartlyer en op medikasie vir hoë bloeddruk.
Dit het hom nie verhoed om steeds met sy fiets werk toe te ry nie.

Sy kollegas het hom hierdie week beskryf as die “pa” van die stasie, die man wat ten spyte van terugslae altyd positief en doelgerig was, en met ywer misdaad in die Paarl bestry en die gemeenskap gedien het.

Hulle wil voortbou op die leuse waarmee hy hulle geïnspireer het -
“What you spend years building someone could destroy overnight. Build anyway.”

Supt Marais is Dinsdag met ’n erewag uit ’n stampvol Paarlvallei NG Kerk ter ruste gelê.

Getrou aan sy diep gelowige uitkyk op die lewe, het sy vrou Barbara die teks uit Romeine vir die gedenkdiens gekies, “Jy moet nie meer dink van jouself as wat jy werd is nie.”

Supt Marais en sy vrou het onlangs na Kuilsrivier verhuis. Benewens Barbara, laat hy vyf kinders en sewe kleinkinders agter.

Volgens Boland areakommissaris Ganief Daniels word daar tans besluit oor ’n waarnemende stasiekommissaris uit Boland geledere.

Die pos word geadverteer vir ’n geskikte permanente opvolger vir die man wat, soos komm Daniels tydens die erediens getuig het, die Paarlstasie só bestuur het dat dit nie nodig was om daar inspeksie te doen nie.

* The chief of the Paarl police has died unexpectedly of a heart attack.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za