Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Moederkerk kry ma

Moederkerk kry ma
 
2005-07-28


DIE standbeeld van ds Andrew Murray voor die NG Moederkerk op Wellington was Sondag getooi in ‘n kappie - dalk om die kerk se eerste “moeder” op die preekstoel te vier.

“Ek weet nie hoe die mans voel nie, maar die vroue is verlig oor die nuwe vars briesie,” vertel ‘n gemeentelid van die NG Moederkerk op Wellington nadat dié historiese gemeente geskiedenis gemaak het met die aanstelling van eerste vroulike NG leraar op die dorp.

Ds Lettie Büchner is hierdie naweek in die gemeente verwelkom, en het haar intreepreek Sondag gelewer.

Die geleentheid is bygewoon deur haar moeder, Rosie Schoeman, ‘n bekende in welsynskringe op Oudtshoorn, haar familie, ‘n wye vriendekring en heelwat besoekende leraars uit ander gemeentes.

“Ek weet nie wat Andrew Murray sou gesê het hieroor nie,” het ‘n manlike gemeentelid agterna spottenderwys gesê, “maar sy lyk beslis dinamies.”

Vrouelidmate waarmee die Paarl Post gesels het is opgewonde oor die “sagter elemente” en “groter emosie” wat deur ‘n prediker van die skoner geslag in die eredienste ingebring kan word.

Dié “live wire” soos ‘n ander gemeentevrou haar beskryf het, sal veral op jeugsake fokus in ‘n gemeente wat nie net die tuiste is vir kosgangers by Hugenote Hoër nie, maar ook heelwat studente van Hugenote Kollege en die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (Wellington Kampus).

Sy sal ds Fanie Marais en ds Bennie van Rensburg bystaan.

Vir haar intreepreek het sy op die Tamar-verhaal in Genesis 38 gefokus, en sommer dadelik die jongmense van haar belydenisklas ingespan om dit te help uitbeeld.

Die aand het sy ook die Tekkiediens, wat fokus op die jongmense, met entoesiasme waargeneem.

Ds Lettie is ‘n nooi Schoeman wat aan Hoërskool Oudtshoorn gematrikuleer het. Op skool het sy onder meer SWD-kleure in hokkie verwerf.

Na haar studies aan die Universiteit van Stellenbosch was sy as proponent aan die NG Studentekerk op Stellenbosch werksaam, waarna sy en haar man, Neil, Brittanje toe is vir ‘n jaar.

By hul terugkeer het sy haar weer by die Studentekerk aangesluit.
Tydens haar intreepreek het ds Thinus van Zyl, leraar van die Studentekerk, gesê die gemeente is jammer om haar te verloor, en het hy haar as ‘n “plat op die aarde” persoon beskryf.

Die egpaar, wat drie jaar gelede getroud is nadat hulle op Stellenbosch ontmoet het, het hulle reeds op Wellington gevestig en is stadig maar seker besig om hul voete in die gemeentewyke te vind.

Neil is die bestuurder van ‘n boetiekhotel op Stellenbosch.

Die Vrouediens skimp nou natuurlik dat hy bietjie sal voorvat by hul byeenkomste - soos wat altyd in lyn met kerklike tradisie van die sogenaamde Mevrou Dominee verwag word!



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za