Oud-Paarliet kry blaaskans in Nieu-Seeland
2008-11-20
’n ONDERNEMING wat 13 jaar gelede deur President Nelson Mandela gemaak is, gaan binnekort uitgevoer word, deurdat ’n hoë kommissariaat – met ’n hoë kommissaris en ’n stewige personeelkorps - vroeg volgende jaar in Nieu-Seeland geopen gaan word. So sê mnr. Gregory Fortuin, Ere-Konsul van Suid-Afrika in Nieu-See- land. Gregory, ’n oud-Paar- liet, het gesê dat Suid- Afrikaanse amptenare onlangs die stad Wellington (Nieu-Seeland) besoek het om die praktiese reëlings rondom die opening van so ’n kommissariaat (ambassade) van naderby te ondersoek. Die hoop is uitgespreek dat die hoë kommissariaat reeds teen April 2009 geopen sal word. Die vorige Suid-Afrikaanse regering het van 1962 tot 1984 ’n konsulaat in Wellington gehad, toe hulle hul personeel teruggeroep het omdat die inkomende Arbeidersparty gedreig het om die konsulaat te sluit, te midde van die politieke klimaat van die tyd. Diplomatieke betrekkings is weer in 1994 herstel, maar Suid-Afrika se hoë kommissaris is toe in Canberra, Australië, gevestig. Gregory vertel: “Tydens President Nelson Mandela se besoek aan Nieu-Seeland in 1995 het hy namens die Suid-Afrikaanse regering met die Nieu-Seelandse regering ooreengekom dat elkeen ’n hoë kommissariaat in die ander se land sal open. “Nieu-Seeland het sy hoë kommissariaat die volgende jaar in Pretoria geopen, maar Suid-Afrika het sy respons herhaaldelik oor die volgende jare uitgestel – hoofsaaklik weens finansiële redes.” Gregory verduidelik dat lande wat lede van die Britse Statebond is na ‘hoë kommissariaat’ verwys, terwyl lande wat buite die Statebond staan van ‘ambassades’ praat. Gregory verwag dat twee of drie personeellede teen die einde van die jaar in Wellington sal begin werk, en die hoë kommissariaat behoort teen April 2009 geopen te word. Hy het verneem dat sewe tot agt persone uiteindelik vanuit Suid-Afrika aangestel sal word, terwyl 12 of 13 plaaslike mense as personeellede aangestel mag word. Maar hoe voel Gregory oor hierdie ontwikkeling nadat hy vir elf jaar - sonder betaling - die rol van ere-konsul vervul het? Die verligting is hoorbaar wanneer hy antwoord, “Ek wag al lank hiervoor! Die werk het net te veel geword om sonder hulp te doen. “Hier woon bykans 60 000 Suid-Afrikaners in Nieu-Seeland, en dit het baie moeilik geword om die mense te bedien. Ons verdien ’n hoë kommissariaat!” lag Gregory. Hy verduidelik dat hy dag of nag by noodgevalle betrokke geraak het, soos gevalle waar Suid-Afrikaners wat weens familiekrisisse dringend Suid-Afrika toe moes reis en dan uitvind dat hul paspoorte soek is of verval het. Hoewel hy nie self die paspoortadministrasie moes of kon doen nie, het mense hom dikwels met hierdie soort probleme genader en dan het hy probeer help met raad en verwysings na die hoë kommissaris in Canberra, Australië. Gregory verduidelik dat ’n hoë kommissaris se rol sal wentel rondom die opbou en ontwikkeling van bilaterale politieke en ekonomiese verhoudinge tussen die twee regerings. Handelsbetrekkinge sal hoog op die lys wees. “Maar die persoon sal ook besig wees met ander konsulêre sake rondom paspoorte, visa en dokumente wat onderteken moet word, en ja, selfs met mense wat by aankoms op die lughawe in die moeiliheid raak weens immigrasieprobleme. “In kort kom dit daarop neer dat die kommissariaat die belange van alle Suid-Afrikaanse immigrante sal verteenwoordig. Gregory en sy gesin is al in 1991 deur National Mutual na Nieu-Seeland verplaas nadat hulle eers vir vyf jaar in Australië gewoon het. Die gesin het in 1986 uit die Paarl na Australië vertrek nadat National Mutual hul Suid-Afrikaanse kantore gesluit het. Hy is ook betrokke by jeugwerk en was in 1997 die stigter van die NZ Youth Suicide Awareness Trust. Volgens Gregory volg hy steeds Suid-Afrikaanse nuus, en lees ook die webwerf van die Paarl Post om by te bly. Hy sien nou uit na meer tyd met sy twee kleinkinders en sy gemeenskapswerk in Porirua. Miskien sien die familie en vriende nou ook ’n bietjie meer van hom! (Bron: Die SA Klub nuusbrief, Nieu-Seeland.
More
News
|