Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Waar was hangboom?

Waar was hangboom?
 
2008-11-20

Lise Beyers

DIE strate van die Paarl wemel van geskiedenis. En een hiervan is die legende van die aangenome domineeseun, Wilhelm Gebhardt, wat ’n slaaf vermoor het.

Hieroor is daar onlangs ten volle verslag gedoen, maar ’n raaisel wat steeds sy rondtes doen, is gerugte van die Paarl hangboom.

Die legende loop so dat nadat Gebhardt skuldig bevind is aan die moord op die slaaf Joris, is hy gehang aan ’n boom teen die hange van Paarlberg wat in daardie tyd bekend was vir teregstellings.

Maar bewyse van hierdie boom kan nie in plaaslike geskiedenisboeke gevind word nie, hoewel hangboom-stories wel van geslag na geslag oorgedra is.

Die bekende oud-Paarlse leraar, joernalis en skrywer, Izak de Villiers, vertel dat hy grootgeword het met hangboom-stories.

“Daar is twee plekke wat al uitgewys is as die moontlike ligging van die hangboom. Die eerste is Meulstraat, wat daardie tyd die Hoofstraat van die Paarl was - daar waar Kloofstraat in Meulstraat loop, op die terrein waar Hoërskool Labori nou staan, was eers ’n kraaminrigting waar ek gebore is.

“Die ou naam vir daardie hoogtetjie was “Rooihoogte”. Daar het ’n groot bloekomboom gestaan wat verwyder is. Kon dit die “hangboom” gewees het?

“Die ander storie was dat die boom meer Kloofstraat se kant toe gestaan het. Toevallig het ons hier ’n huis gehad wat my pa verhuur het terwyl ons te Meulstraat 102 gewoon het. Agter was die stomp van ’n reuse akkerboom, en daar is gesê dat dít die hangboom was.

“My ouma het ook dikwels hieroor gepraat.

“Waar presies Gebhardt se graf was, is ook ’n groot vraag. My pa het eendag in die tuin gegrawe, toe hy op ’n doodskis afkom. Hy het dit oopgegrawe, maar dit was met klippe gevul.

“Met die hele Gebhardtstorie was daar juis gerugte dat hy die buite-egtelike kind van ’n Britse vors was wat in ds Gebhardt se sorg beland het.

“Kon hy na sy dood geheimsinnig teruggeneem geword het na sy plek van geboorte?”

Wat wel aangeteken is, is in ’n lang epiese gedig wat deur DF Malherbe geskryf is oor die hele geskiedenis van Gebhardt. Daarin sê hy dat Gebhardt gehang is aan ’n “regop Bergpopulier”.

De Villiers onthou ook hoe Gebhardt se makabere grafsteen op die solder van hul huis in Pleinstraat gelê het.

Dié staan nou in die Paarl Museum en is ’n eenvoudige swart leiklip met ’n skedel en beendere daarop gegraveer.

“Gebhardt se grafsteen het op ’n tyd glo gedien as ’n bruggie oor ’n sloot naby die Meul. Ek praat onder korreksie, want ek het geen manier om dit te bevestig nie, maar ek dink my pa het dit opgetel en huis toe geneem.

“Waar ook al die hangboom gestaan het, glo ek dat Gebhardt die laaste Paarlse slagoffer was wat daar gehang is.”


More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za